Bemagtig leierskap deur volhoubaarheid

Lebohang Raputsoe, 'n alumnus van die Noordwes-Universiteit (NWU), het onlangs ’n virtuele leierskapsontwikkelingswerkswinkel deur haar nie-winsgewende organisasie, The ABC Community, gehou. Die doel van hierdie inisiatief is om jongmense te inspireer en met mekaar te laat skakel, met ’n spesiale fokus op die bemagtiging van jong vroue sodat hulle volhoubaar kan dink en optree.

Lebohang sê die werkswinkel bied ’n platform om volhoubaarheid vanuit verskillende perspektiewe op ’n individuele, huishoudelike, gemeenskaps-, nasionale en wêreldwye vlak te ondersoek. Dit het ook netwerke en samewerking aangemoedig onder diegene wat dit bygewoon het om volhoubare gemeenskapsontwikkelingsprojekte te verken en te implementeer.

Deelnemers is in vier fokusgroepe verdeel, naamlik entrepreneurskap, werkloosheid onder die jeug, leer en ontwikkeling en filantropie, wat elkeen die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte 2030 (SDG) van die Verenigde Nasies hanteer. Die struktuur het betekenisvolle besprekings aangemoedig en ’n betrokkenheid geskep by teenwoordiges met ’n gedeelde belangstelling in die onderwerpe waaroor hulle passievol is.

“Die werkswinkel het die verbondenheid van volhoubaarheid en leierskap beklemtoon en die teenwoordiges bemagtig om doelgerig leiding te neem en hulle projekte te belyn om langtermynsukses te behaal wat vir die mense en die planeet tot voordeel is,” verduidelik Lebohang.

Insigte en toekomstige rigtings

Lebohang het tydens die werkswinkel erken dat daar uitdagings is, insluitende die probleem om deelnemers te kry wat belangstel en om uiteenlopende skedules te akkommodeer. Ten spyte van hierdie struikelblokke, was dit geslaagd om die teenwoordiges in gefokusde subgroepe te verdeel en sodoende ’n ruimte te skep waar idees na vore kon kom en wat aktiewe deelname verseker het.

Lebohang wil vir toekomstige werkswinkels praktiese instrumente en meetbare strategieë inkorporeer en vennootskappe met korporatiewe borge smee om volhoubare inisiatiewe te ondersteun. Sy het ook voorgestel dat mentorskapsgeleenthede geskep word waar alumni as sprekers en rigtingwysers kan dien en hulle ervarings kan deel, en deelnemers vir hulle doelwitte aanspreeklik kan hou.

Hierdie werkswinkel is die begin van ’n groter beweging en het ’n vaste fondament vir volhoubare leierskap en gemeenskapsontwikkeling daargestel.

Lebohang Raputsoe.

Submitted on Mon, 12/09/2024 - 11:27