“Die belangrikste ekonomiese en fiskale teikens in die Begroting moet bereik word en groeibeleide moet geïmplementeer word as Suid-Afrika nog ʼn finansiële Dunkirk later wil vermy.”
Prof Raymond Parsons van die Besigheidskool aan die Noordwes-Universiteit sê die Minister van Finansies, Tito Mboweni, het ’n baie moeilike taak gehad om in uitdagende ekonomiese omstandighede ’n balans te handhaaf.
“Die Begrotingstoespraak het elemente van hoop sowel as wanhoop gehad. Die ietwat beter ekonomiese en fiskale nuus, saam met die implementeringsplanne vir die entstof in die maande wat voorlê, is verwelkom. Die Nasionale Tesourie se korttermynbefondsingsreëlings was positief.
Prof Parsons sê die verbeterde onmiddellike ekonomiese vooruitsig is egter iets waaraan Suid-Afrika nou dringend moet werk om in die tyd wat voorlê sy ekonomiese en staatsfinansies in ’n meer volhoubare toestand te kry.
“’n Mens moet in gedagte hou dat die ekonomie alreeds in ’n resessie was toe die pandemie Suid-Afrika amper ’n jaar gelede getref het, en daar is ’n groot ekonomiese agterstand om in te haal. Hoewel daar – soos die Begroting tereg beklemtoon het – hierdie jaar ’n ekonomiese oplewing sal wees, is die drywers van Suid-Afrika se groeivooruitsigte verder as 2021 baie belangriker.”
Prof Parsons sê die ekonomie is nog glad nie uit die moeilikheid uit totdat totale vastekapitaalvorming, wat deur beleggersvertroue ondersteun word, begin om van sy huidige swak vlakke te herstel nie. “’n Groot deel van die verwagte ekonomiese herstel vind vanaf ’n baie lae basis plaas. Werkloosheid is nou op rekordvlakke. Sterker onmiddellike binnelandse ekonomiese tendense moet dus nou in volhoubare arbeidsryke beleggings en groei oor die medium termyn omgeskakel word”.
Hy sê daar is reeds verlede jaar algemene instemming dat Suid-Afrika verder as die pandemie moet beplan en optree, en die voortgesette strukturele gebreke in energiesekerheid, duur vaardigheidstekorte, en hardnekkige beleidsonsekerheid moet aanpak.
“Die matige Begrotingsgroeivoorspellings verder as 2021 moet dus ondersteun word deur die mate waarin groeiplanne en ander strukturele hervormings aktief geïmplementeer word om die ekonomie op ’n hoër groeipad te plaas.”
Volgens Prof Parsons moet streng maar realistiese tydlyne vir beleide en projekte daarom deurlopend en sigbaar afgedwing word om meer tasbare uitkomste te verseker. Hy sê die jongste Begroting gaan voort om die ernstige langtermynrisiko’s wat in die fiskale vooruitsig oorbly, te beklemtoon.
“Minister Mboweni het in sy Begrotingstoespraak herhaal dat Suid-Afrika se staatsfinansies gevaarlik oorbelas is. Hy het beklemtoon dat Suid-Afrika steeds sy fiskale posisie moet versterk. Daarom, hoewel die Nasionale Tesourie homself oor die afgelope jaar goed van sy taak gekwyt het deur die behoeftes van die land in ongekende toestande te balanseer, is daar geen rede vir selfgenoegsaamheid nie. Tensy – op die heel minste – die groei en fiskale mikpunte soos dit in die 2021/22-begroting uiteengesit is, suksesvol bereik word, kan Suid-Afrika moontlik nog steeds sy finansiële Dunkirk later bereik.”
Prof Parsons sê die uitdaging bly steeds om bestendig en konsekwent beleide en projekte te implementeer wat Suid-Afrika uit sy laegroeivalstrik sal laat kom sonder om in ’n skuldlas te verval.
“Hoër groei op sigself sal nie al Suid-Afrika se ekonomiese probleme oplos nie. Dit sal eerder ’n lewendiger klimaat skep om dit te kan bestuur.”
Volgens Prof Parsons moet die Nasionale Tesourie en die land dus voortgaan om ’n agenda van moeilike besluite en kompromieë te implementeer wat ’n nagmerriescenario-skulduitkoms sal afweer.
“Om staatsuitgawes te besnoei sonder om die ekonomiese groei te benadeel, vereis steeds dat die grootte van die staatsektor se loonrekening doeltreffend aandag moet ontvang en dat produktiwiteit in die staatsektor verhoog moet word.”
Hy sê reddingsboeie aan groot ondernemings in staatsbesit moet beperk word. “Hoewel algemene belastings in ’n swak ekonomie om verstaanbare redes nie verhoog is nie, beklemtoon dit weer die mate waarin toekomstige belastinginkomste van hernude groei sal afhang. Die jongste belastingtekort is die hoogste tot dusver.”
Prof Parsons benadruk dat die geloofwaardigheidsfaktor in die ekonomiese en fiskale beleid in die tydperk wat voorlê van groot belang is as gevolg van die vorige swak prestasierekord dat relevante teikens nie behaal is nie.
“Vertroue hang nou af van sigbare vooruitgang wat met strukturele ekonomiese hervormings gemaak word. ’n Paar betekenisvolle oorwinnings in die nabye toekoms sal help om vertroue te bou. Terwyl die regering inderdaad ’n paar nuttige hervormingsmaatreëls aangekondig het, moet dit nie net beter gekommunikeer word nie, maar dit moet ook geneutraliseer word deur ander stappe wat onbestaanbaar is met die beoogde oorkoepelende ekonomiese rigting.”
Prof Parsons sê die behoefte om vir die lang termyn op koers te bly, is dus noodsaaklik. “Dit beklemtoon weer dat die vereiste samehang en implementering van beleid en projekte ’n gesamentlike verantwoordelikheid van die Kabinet is, in samewerking met die privaat sektor waar dit toepaslik is. Die versekering van beleidsamehorigheid kan nie net op die skouers van die Nasionale Tesourie rus as Suid-Afrika sy ekonomie vroeër eerder as later suksesvol wil omswaai nie.”