Bekyk risikobestuur vanuit ʼn sielkundige oogpunt

Prof Marise Born het na afloop van haar prestigelesing die nuutste toevoeging tot die indrukwekkende kader buitengewone professore aan die Optentia-navorsingsfokusarea van die Noordwes-Universiteit (NWU) geword.

Prof Born is ʼn vol professor in bedryfsielkunde aan die Erasmus Universiteit in Rotterdam in Nederland. Haar indrukwekkende CV sluit ook haar rol as buitengewone professor in bedryfs- en personeelsielkunde aan die Vrije Universiteit in Amsterdam in.

Haar navorsingsbelangstellings sluit personeelseleksie, interkulturele sielkunde, toetsontwikkeling en -assessering, groot data en algoritmes in sielkundige assessering, sowel as persoonlikheid en individuele verskille in.

Tydens haar prestigelesing is die gehoor egter bederf met ʼn blik op risiko-kwessies of -kultuur, die relevante aspekte wat ʼn impak daarop het, en hoe dit aansluit by die individuele verskille tussen mense.

“As ons organisatoriese risiko-kwessies of risikobestuur bespreek, is daar relevante aspekte wat verband hou met die verskille tussen individue waarmee daar rekening gehou moet word,” het sy gesê.

Haar lesing is met voorbeelde toegelig om die gehoor te inspireer en uiteindelik tot nuwe navorsing te lei. Prof Born het verder verduidelik dat konsepte wat van toepassing is op die vlak van individuele verskille, soos byvoorbeeld verskillende style van hantering van lewensgebeurtenisse, ook relevant is in organisatoriese kulture

Sy glo dit is ook belangrik om – behalwe organisasiekultuur – op navorsing oor die verskille tussen individue wat belangrike rolle in ʼn organisasie speel, te fokus. “Individuele verskille in terme van persoonlikheid en waardes kan byvoorbeeld ʼn invloed op risiko-aanspreeklikheid hê,” het sy gesê.

 

Prof Born beskryf haarself as interdissiplinêr-gerig en glo ekonomiese standpunte is ʼn groot dryfveer vir haar navorsing.

“Ons weet dat die Sentrum vir Toegepaste Risikobestuur baie navorsing in die Suid-Afrikaanse konteks doen. Dit is baie belangrike vanuit die standpunt van die bedryfsielkundenavorsing,” het sy gesê.

Volgens haar is die datastelle wat in internasionale boeke en joernaalartikels gebruik word, gebrekkig omdat inligting slegs in Westerse lande in Europa en Noord-Amerika ingesamel word.

“Wanneer dit by risikobestuur kom, is individuele verskille baie relevant in die Suid-Afrikaanse konteks. Daar behoort navorsing gedoen te word oor risikogeneigdheid en hoe dit risikogedrag in die Suid-Afrikaanse konteks kan beïnvloed. Baie navorsing is al in ander dele van die wêreld gedoen, wat sekerlik van toepassing op sekere dele van die Suid-Afrikaanse samelewing kan wees, maar vir seker nie op alle dele nie,” het prof Born aangevoer.

Prof Born het as outeur en mede-outeur al meer as 100 artikels in eweknie-geëvalueerde joernale gepubliseer en meer as 20 PhD-studente bygestaan. Sy is tans die raadsvoorsitter van die Hollandse Stigting van Psigotegniika

Submitted on Mon, 05/20/2019 - 15:36