Bekende opvoedkundige oorlede

ʼn Bekende voormalige dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde en viserektor aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlparkkampus, prof Dewey de Wet, is Saterdag 2 Julie in die vroeë oggendure in sy huis in Potchefstroom oorlede.

Prof de Wet het studeer aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), nou die NWU, waar hy sy BSc-graad in wiskunde en wetenskap, UOD, BEd, MEd en DEd-grade, asook ʼn BScHons-graad van UNISA behaal het.

Prof de Wet was ook ʼn uitsonderlike studenterugbyspeler en was in 1954 en 1955 kaptein van die Universiteit se eerste rugbyspan.  In 1955 het hy die eerste rugbyspan gelei tot ʼn oorwinning van 16-3 teen Kovsies, wat allerweë beskou word as die bekendste oorwinning in die Intervarsity-geskiedenis.

Ná sy studies begin hy sy onderwysloopbaan by Hoërskool Rustenburg (1956 tot 1963), waarna hy adjunkhoof by Shawburt High School in die voormalige Transkei geword het, voordat hy as senior lektor by die Universiteit van Fort Hare aangesluit het.

Hy het in die laat sestigerjare as een van slegs ses professore by die Fakulteit Opvoedkunde aan die destydse PU vir CHO aangesluit en was verantwoordelik vir die vakgebied Empiriese Opvoedkunde, wat later na Opvoedkundige Sielkunde verander is.

Volgens sy opvolger, prof Hannes van der Walt, was prof De Wet verantwoordelik vir minstens vier groot hernuwingsinisiatiewe tydens sy termyn as dekaan (1980 tot 1987). Hy het die fakulteit in die vroeë sewentigerjare oorreed om ʼn deeltydse nagraadse diploma in onderwys te implementeer, wat oor verloop van 18 maande aangebied is. Hierdie program het voorsien in die behoeftes van talle onderwysers in die Potchefstroom-omgewing.  Hy het ook die uitbreiding van opvoedkundige programme by die Vanderbijlparkkampus aangemoedig.

Prof Van der Walt het hom beskryf as ʼn akademiese reus. “Hy is aan ons geleen, en hy het ʼn energieke bydrae op die regte tyd en die regte plek gelewer.” Nog ʼn oud-kollega, prof JL de K Monteith, het hom beskryf as die vader van navorsing by die Fakulteit Opvoedkunde, en onthou die navorsingseminare wat hy aangebied het, asook die publikasie van ʼn handboek oor navorsingsmetodologie in opvoedkundige wetenskappe.

In November 1987 is hy aangewys as viserektor en kampushoof van die Vanderbijlparkkampus, ʼn pos wat hy tot sy aftrede in 1994 beklee het.

Afgesien van sy groot akademiese prestasies, sal sy blywende nalatenskap egter die vestiging van die pragtige tuine en bome wees, asook die wild wat tot onlangs op die Vanderbijlparkkampus gesien kon word.

Prof de Wet is in 1994 vir sy werk vereer toe die mooiste deel van die kampus na hom vernoem is.

.......

Prof Dewey de Wet

 

Submitted on Wed, 07/06/2022 - 15:54