Die toespraak oor die 2023 Begroting was ’n verrassingvrye, pragmatiese en geloofwaardige reaksie op ’n stel uitdagende internasionale en plaaslike ekonomiese omstandighede.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, het kommentaar gelewer op die 2023 Begroting wat deur die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, aan die parlement voorgelê is.
“Hoewel ons ’n paar meevallers ten opsigte van winste uit belastinginkomste ontvang het, moes minister Enoch Godongwana in die lig van die politieke en ekonomiese beperkings waarbinne hy die fiskale beleid moes vorm, steeds ’n moeilike balanseertoertjie uitvoer.”
Prof Parsons sê Suid-Afrika se staatskuld bly hoog en daar word verwag dat dit op 73,6% van die bruto binnelandse produk (BBP) in 2025/26 – drie jaar later en teen ’n hoër vlak as wat in die 2022 Mediumtermynbegroting-Beleidsverklaring (MTBBV) voorspel is – sal stabiliseer.
Volgens prof Parsons gaan fiskale risiko’s dus nog steeds oor die volgende paar jaar bestaan. “Hierdie risiko’s spruit breedweg uit faktore soos die bestuur van die groot skuldverligtingsraamwerk van Eskom, die finale uitkomste van die loononderhandelings in die staatsektor, en uiteindelik die impak van ’n lae BBP-groei op belastinginkomste.”
Verskeie groot ondernemings in staatsbesit steun ook steeds swaar op reddingsboeie van die regering. Hoër belastinginkomste hang van volgehoue beleggings en ekonomiese groei in die toekoms af.
“Hoewel ’n beduidende reëling vir skuldverligting aan Eskom onvermydelik is, moet dit op so ’n wyse geïmplementeer word dat dit die oorsake van die huidige onbehaaglikheid oorkom en die vinnige ontwikkeling van die elektrisiteitsektor as geheel ondersteun om die kritieke voorsienings- en omgewingsprobleme te hanteer wat ons in die gesig staar. Die belastingaansporings aan besighede en huishoudings om sonpanele te installeer, is welkom, hoewel die drempel vir huishoudings baie konserwatief blyk te wees.”
Prof Parsons sê die Tesourie se aanname van ’n gemiddelde BBP-groeikoers van 1,4% oor die volgende drie jaar wat die begrotingstrategie onderlê, kan moontlik té optimisties wees vergeleke met die onlangse voorspellings deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) en ander van ongeveer 0,7% oor dieselfde tydperk.
“Dit is ook duidelik dat Suid-Afrika se toekomstige groeivooruitsigte nou minder afhanklik is van die fiskale beleid as van die vermoë van die res van die kabinet om die ekonomiese en energiehervormings wat nodig is, te implementeer om Suid-Afrika baie groter arbeidsryke groei te gee,” sluit hy af.