Die Suid-Afrikaanse Begrotingstoespraak van 21 Februarie – wat met ’n toon van optimisme en verbintenis gelewer is – het ’n regering ontbloot wat met ekonomiese uitdagings sukkel terwyl hulle na vordering streef.
Prof Joseph Sekhampu, hoofdirekteur van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê dat bekommernisse en onbeantwoorde vrae by nadere ondersoek na vore kom.
“Een noemenswaardige aspek van die Begroting is die erkenning van wêreldwye en plaaslike faktore wat ekonomiese groei beïnvloed. Die minister het genoem dat daar ’n matige toename in die voorspelling van wêreldwye groei, vanaf 3,1% tot 3,2% teen 2025, is. Suid-Afrika se groei op die kort termyn bly egter onder druk, met ’n geskatte werklike groei van die bruto binnelandse produk (BBP) van 0,6% in 2023, wat laer is as die 0,8% wat in die Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring (MTBPS) geprojekteer is.”
Volgens prof Sekhampu bied die fiskale vooruitsig ’n donker toekoms, met die begrotingstekort wat vanaf 4% tot 4,9% van die BBP vergroot, en skulddienskoste wat toeneem (en meer as 20% van die inkomste absorbeer). Hy sê ten spyte van pogings om besteding te beperk en inkomste deur belastingvoorstelle te verhoog, insluitende verhoging van aksynsregte en koolstofbelasting tot bo inflasie, die Begroting nie daarin slaag om ’n geloofwaardige plan vir fiskale konsolidering te verskaf nie.
“Die vertroue op skuld om besteding te finansier, laat bekommernisse oor langtermynvolhoubaarheid ontstaan, veral in die huidige onseker ekonomiese omgewing.”
Prof Sekhampu wys daarop dat belegging in infrastruktuur, wat as belangrike aandrywer van ekonomiese groei aangeprys word, geen spesifisiteit en duidelikheid vir die implementering daarvan toon nie. Hoewel die minister beduidende fondse vir infrastruktuurprojekte toegewys het (in totaal meer as R943 miljard), skep die afwesigheid van ’n duidelike tydsraamwerk en aanspreeklikheidsmeganismes twyfel oor die vermoë om hierdie beloftes gestand te doen.
“Inisiatiewe vir maatskaplike welsyn het aandag in die Begroting ontvang, maar die toegewysde hulpbronne is moontlik nie genoeg om die omvang van die sosio-ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika te hanteer nie. Ten spyte van verhogings in die waarde van die maatskaplike toelaes vir indiensnemingsprogramme, slaag die Begroting nie daarin om omvattende strategieë vir die verligting van armoede en inklusiewe arbeidsryke groei uit te spel nie. Sonder bepaalde intervensies en ’n holistiese benadering tot maatskaplike ontwikkeling, sal die armes steeds sukkel om toegang tot noodsaaklike dienste en geleenthede te kry.”
Prof Sekhampu sê hoewel die Begroting goeie bedoelings en aspirasies vir ekonomiese herstel en maatskaplike ontwikkeling openbaar, dit tekortskiet in die verskaffing van konkrete oplossings en uitvoerbare planne om die nasie se dringende uitdagings te hanteer.
“Sonder dapper hervormings en besliste optrede is die Begroting moontlik meer retoriek as substansie, en maak Suid-Afrika se ekonomiese toekoms onseker,” sluit hy af.