Begroting probeer balans tussen fiskale volhoubaarheid en ekonomiese groei handhaaf

Die hersiene Begrotingsverklaring wat die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, op 12 Maart voorgelê het, wat ’n nuwe fiskale vermenging van besteding, lenings en belasting bied as ’n reaksie op die teenstand voorheen teen die 2%-styging in BTW wat in die oorspronklike Begroting voorgestel is, wyk in ’n mate af van die parameters wat in die oorspronklike Begroting uiteengesit is.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê daar was ’n welkome klem op faktore soos die vermyding van lenings, bemagtiging van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) om belastingnakoming te versterk, en bespoediging van infrastruktuurbesteding.

Hy sê die gewysigde Begroting probeer ’n nuwe balans tussen fiskale volhoubaarheid en ekonomiese groei bewerkstellig. “Die beloofde omvattende bestedingsoorsig is ’n stap in die regte rigting, maar realistiese tydlyne moet gestel word. Moeilike besluite oor die herkalibrering van staatsbesteding was nietemin steeds in die gewysigde Begroting nodig.”

Prof Parsons wys daarop dat toekomstige risiko’s vir die fiskale vooruitsig bly – wat die Wêreldbank ook onlangs weer beklemtoon het.

“Dit was die herhaalde versuim oor verskeie jare om staatsbesteding voldoende te beheer wat uiteindelik tot steeds groter begrotingstekorte en ’n volgehoue styging in die belangrike skuld-bruto binnelandse produk (BBP)-verhouding gelei het, en wat nou na verwagting hierdie jaar ’n hoogtepunt van 76,2% van BBP sal bereik. Op die belastingfront – hoewel die BTW-koers nou oor die volgende twee jaar net tot 16% styg – is dit gevolglik dalk nie die einde van die verhaal nie, tensy sterker pogings in die toekoms aangewend word om die bestedingskant van die Begroting te tem.”

Volgens Prof Parsons loop Suid-Afrika nou die risiko om in ’n negatiewe belasting-en-besteding- fiskale siklus in te beweeg, met uiteindelike nadelige ekonomiese gevolge tensy hoër groei meer belastinginkomste genereer. In ’n poging om belegging en groei te verbeter, is die klem in die Begrotingstoespraak op samewerking met die privaat sektor nietemin welkom.

“Of die Begroting genoeg gedoen het om ekonomiese groei aan die gang te kry om uiteindelik die algehele teiken van 3%-groei in BBP in die RNE se onlangse Mediumtermyn-Ontwikkelingsplan (MTOP) te bereik, is nie duidelik nie. Gegewe ’n meer kwesbare eksterne omgewing is die Begroting se aanname van 1,8% ekonomiese groei hierdie jaar dalk ook te optimisties. Soos die Begrotingstoespraak ook beklemtoon, vereis hoër ekonomiese groei en ’n duursame herstel in ekonomiese aktiwiteit ’n stabiele makro-ekonomiese omgewing, aangevul deur vinnige implementering van ekonomiese hervormings en ’n verbeterde regeringskapasiteit.”

Prof Parsons sê ’n ekstra laag onsekerheid is egter nou onvermydelik by die fiskale beleid gevoeg deur die feit dat daar nog uiteindelik oor die Begroting in sy huidige vorm gestem moet word en dat dit deur die Parlement aanvaar moet word.

“Daar sal waarskynlik ’n verdere robuuste debat oor die wysiging van geldwetsontwerpe in die Parlement wees. Die parlementêre proses sal ’n uitdagende een wees om te kyk of lede van die Parlement die fiskale vermenging in die Begroting kan verbeter, en ook insette van ander belangrike belanghebbers in die ekonomie kan oorweeg.”

Submitted on Thu, 03/13/2025 - 10:15