In die lig van ’n kommerwekkende kombinasie van ekonomiese en fiskale uitdagings het die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, in sy Begrotingstoespraak op 21 Februarie ’n realistiese evaluering gegee van die sosio-ekonomiese en fiskale uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, insluitende ’n “hoë soewereine kredietrisiko”.
Dit is die mening van prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool.
“Die Begroting moes ’n ingewikkelde balanseertoertjie van moeilike ekonomiese en politieke besluite binne ’n beperkte fiskale ruimte uitvoer. Die fiskale ‘mengsel’ in die Begroting het probeer om die moeilike balans te vind om dit wat nodig is om die ekonomie te ondersteun, te rekonsilieer met ’n volgehoue verbintenis tot fiskale konsolidasie en die beperking van skuld.”
Prof Parsons sê die 2024-Begroting het die oorkoepelende behoefte erken om die groei van nasionale skuld te beperk en die koste daarvan te verlaag met ’n aantal maatreëls wat ten doel het om die fiskale gaping te oorbrug. Soos dit wyd te wagte was, het die Begroting verskeie finansiële buffers vir die mediumtermyn- fiskale uitdaging bevat, wat strek oor die breë spektrum van bestedingsbesluite, die bestuur van skuld en sekere belastingaanpassings om “die boeke te balanseer”.
“Die Begroting het nietemin met reg erken dat die ‘grootte van die koek nie vinnig genoeg groei om aan ons ontwikkelingsbehoeftes te voldoen nie’ en dat ‘daar risiko’s vir die binnelandse vooruitsig’ is.”
Volgens prof Parsons is een groot risiko vir die fiskale vooruitsig die volgehoue oorheersing van die rentebetalings in die Begroting. “Wat ook noodsaaklik is in die nadraai van verdere reddingsboeie vir groot ondernemings in staatsbesit (SOE’s) soos Eskom en Transnet is dat die voortgesette hulp duidelik aan produktiwiteits- en prestasiewins gekoppel moet word om te voorkom dat ’n situasie van kwasipermanente finansiële verligting vir kwynende SOE’s voortgaan.
“Indien Suid-Afrika nou onttrekkings uit die goud- en buitelandsevaluta-gebeurlikheidsreserwefonds (GFECRA) gaan maak, moet die opbrengste verstandig en verantwoordelik gebruik word. Dit is onafwendbaar dat daar – tensy daar streng vangnette en veiligheidsmaatreëls is om beter beheer van ’n kwesbare fiskale situasie te verseker – ’n aantal negatiewe gevolge sal wees op beide die eksterne en interne fronte, wat op ekonomiese gebied baie skadelik vir Suid-Afrika sal wees.”
Prof Parsons sê ekonomiese groei in Suid-Afrika was nou al vir té lank té laag. ’n Groot bedreiging vir die fiskale balans was die gebrek aan toereikende belastinginkomste as gevolg van hardnekkige lae groei. Die narratief rondom groei moet dus versterk en geprioritiseer word. “Soos die Minister van Finansies dikwels beklemtoon het, wat ook al die onmiddellike fiskale stappe is om die ‘boeke te balanseer’, wys alles uiteindelik op die behoefte vir baie hoër inklusiewe groei om fiskale volhoubaarheid en ekonomiese ontwikkeling op die langer termyn te bereik.”
Prof Parsons wys daarop dat wêreldwye navorsing nietemin toon dat die getal lande wat met sukses uit oormatige staatskuld gekom het, in werklikheid redelik klein is, terwyl die getal lande wat groot fiskale probleme ervaar het – wat hoër inflasie en ander ernstige ekonomiese terugslae veroorsaak het – redelik groot is. Groei moet boaan die hiërargie van politieke doelwitte wees. Hy sê Suid-Afrika is goed geplaas om hier sukses te behaal, mits ’n duidelike ekonomiese strategie wat vertroue bou,tesame met beloofde groeivriendelike strukturele hervormings, ná die komende verkiesing in Mei na vore kom.
“Indien arbeidsryke groei kan help om meer landsburgers uit welsyn en in werk te kry, sal laer koste en risiko’s van afhanklikheid van welsyn ook die fiskale metrieke verbeter. Kortom, die keuse bly tussen reële ekonomiese groei met al sy voordele, of die las van lae groei met sy kruipende sosio-ekonomiese koste en afhanklikheid van welsyn. Dit bly ’n belangrike uitdaging vir Suid-Afrika se staatsfinansies.”
Prof Parsons beklemtoon dat dit ook toenemend uit die jongste Begroting duidelik is dat alles nie op die skouers van die Nasionale Tesourie geplaas kan word nie. “Gesamentlike beleidsvorming en doeltreffende lewering vereis dat die regeringsmasjien as geheel sy deel doen. Dit raak selfs al hoe duideliker dat die doeltreffendheid van ander sleutelbesluitnemers – insluitende die groter rol van die privaat sektor – onmisbaar geraak het vir Suid-Afrika se ekonomiese sukses. Fiskale beleid alleen kan nie die oplossings verskaf nie.”
Hy sluit af dat die Begroting se groeivoorspelling vir die onmiddellike toekoms nietemin ver te kort skiet vir dit wat die land nodig het. “Tensy Suid-Afrika in hierdie lae groeistrek vasgevang wil word, is dapperder stappe nodig om die ‘ekonomiese koek groter te maak’. Wat duidelik deur die fiskale swartgalligheid van onlangse begrotings na vore kom, is weer eens die oorweldigende behoefte aan ’n sterk en volhoubare hupstoot in Suid-Afrika se dalende groeikoers op grond van beduidende huidige hervormings en die aktiewe implementering daarvan.”