BBP-syfers toon dat ekonomiese produksie feitlik weer op voorpandemievlakke is

Dit is baie bemoedigend dat die jongste baie-beter-as-verwagte syfers van die bruto binnelandse produk (BBP) vir die eerste kwartaal van 2022 ’n verdere sterk herstel in die ekonomie toon ná die ekonomiese terugslae van die Covid-19-inperkings en die wydverspreide onrus van Julie 2021.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die syfers wat op 7 Junie 2022 aangekondig is, versterk die BBP-groei van 4,9% wat vir 2021 as geheel opgeteken is, ná die negatiewe -6,4%-groei wat die vorige jaar ervaar is.

“Ekonomiese produksie is nou feitlik terug op voorpandemiese vlakke, en is ongetwyfeld ook deur die voortgesette wêreldwye kommoditeitsoplewing versterk.”

Hy sê wat veral bemoedigend is, is die styging van 3,6% in bruto vastekapitaalbeleggings (BVKB), wat ’n groot versneller van groei en indiensneming is. BVKB in 2021 was steeds teen die lae koersverhouding van slegs 13% tot die BBP, wat ongeveer die helfte is van wat vereis word vir ’n baie hoër ekonomiese groei en werkskepping indien die doelwitte van die ekonomiese heropbou- en herstelplan bereik moet word.

Die jongste verbetering in vastekapitaalbesteding sal dus nog ’n stap vorentoe wees in die versterking van daardie sleutel- ekonomiese verhouding. Die jongste BBP-syfers sal waarskynlik vereis dat analiste hulle vorige voorspellings vir BBP-groei in 2022 as geheel van 1,6% tot 1,8% moet verhoog.”

Prof Parsons wys daarop dat omsigtigheid steeds nodig is oor hoe ver daar gegaan kan word. Negatiewe ontwikkelings in die tweede kwartaal kon nietemin moontlik nou nuwe negatiewe risiko’s vir die 2022-groeivooruitsig geskep het. Hierdie faktore in sluit die wêreldwye negatiewe ekonomiese gevolge van ’n uitgerekte Rusland-Oekraïene-oorlog, die ekonomiese impak van die vernietigende vloede in KZN, aanhoudende beurtkrag en duurder leenkoste vir besighede en verbruikers namate die SARB se rentekoersverhogingsiklus voortduur.  

“In die lig van die wêreldwye en binnelandse onsekerhede wat steeds ten opsigte van die ekonomiese vooruitsig vir 2022 bestaan, bly dit dus noodsaaklik dat hierdie positiewe groei wat nou na vore kom, nie vermors moet word nie, maar deurlopend moet toeneem deur die regte strukturele hervormingsbeleide en -projekte te implementeer sodat die volgehoue ekonomiese groei wat nodig is, bevorder kan word.”

Submitted on Wed, 06/08/2022 - 11:15