BBP-groeisyfers vir die eerste kwartaal van 2023

Volgens prof Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool is die goeie nuus dat die BBP-groei van 0,4% in die eerste kwartaal van 2023, ná die hersiene -1,1%-groei in die vierde kwartaal van 2022, die Suid-Afrikaanse ekonomie in staat gestel het om ’n tegniese resessie – met ander woorde twee agtereenvolgende kwartale van negatiewe groei – te vermy.

“Ekonomiese groei het in onlangse kwartale uiters onbestendig geraak, hoofsaaklik as gevolg van meer aggressiewe kragonderbrekings en ander ekonomiese teenwinde. Dit is ’n getuigskrif vir die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van die privaat sektor dat ’n resessie ten minste vermy is, gegewe die ongunstige ekonomiese omstandighede wat bestuur moet word. Die voortgesette positiewe dog lae vastebeleggingsgroei is ook welkom en moet gekoester word,” het hy bygevoeg.

Die slegte nuus is egter dat die groeivooruitsig vir 2023 swak bly, met die meeste voorspellings vir die jaar as geheel wat rondom 0,2% tot 0,3% wentel. Die Absa Koopbestuurdersindeks vir Mei (1 Junie) toon byvoorbeeld – benewens die swak evaluering van die huidige omgewing – dat respondente duidelik meer negatief oor besigheidstoestande in die nabye toekoms is. Nedbank waarsku in sy Economic Insights (30 Mei) dat die aggressiewe styging in rentekoerse die finansiële las op huishoudings sal laat toeneem en ’n demper op die vraag na krediet sal plaas, en dat dit uiteindelik nog ’n golf van werksverliese kan veroorsaak.

’n Verhoogde vlak van onsekerheid oor Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig en rigting is dus steeds daar as gevolg van ’n aantal van hierdie onlangse welbekende negatiewe faktore wat die land se prestasie beïnvloed. Geopolitieke spanning wat in die tweede kwartaal van 2023 as gevolg van die land se kontroversiële standpunt oor die Rusland-Oekraïne-konflik na vore kom, het ook ’n hoër risikopremie op Suid-Afrika geplaas en het alreeds die beleggingsentiment in die huidige kwartaal negatief beïnvloed. Die NWU Besigheidskool se Beleidsonsekerheidsindeks (BOI) vir die tweede kwartaal van 2023 sal aan die einde van Junie beskikbaar wees om die jongste veranderings in die beleidsonsekerheid te kalibreer.

Prof Parsons het ook aangedui dat om die land se ekonomiese vooruitsig te verbeter en om die verwagte matige sikliese opswaai vanaf 2024 en verder te steun, die kwessie van vertroue van die grootste belang bly. Onder die verskillende voorgestelde ekonomiese remedies vir Suid-Afrika is die grootste inherente uitdaging om vertroue onder sakelui en verbruikers te herbou. Om vertroue te herstel, is die helfte van die stryd vir amptelike besluitnemers terwyl hulle daarna streef om oplossings te implementeer waarop ooreengekom is. Daar word gesê dat die bou van vertroue die goedkoopste vorm van ekonomiese stimulering is.

Submitted on Wed, 06/07/2023 - 11:22