Baie kundigheid tussen al die blare van TREES versteek

Wanneer ons oor toerisme dink, kom beelde van lang safariroetes deur die Afrikabos, luilekker dae in die son op die wit sand van ons ongerepte strande en die pragtige argitektoniese meesterstukke – vreemd en ook eiesoortig – by ons op. Toerisme is egter ’n komplekse bedryf wat aan die nukke en grille van ’n ongelooflike aantal veranderlikes onderwerp is.

Daar is baie dinge wat aandag vereis, navorsing wat gedoen moet word en aanbevelings wat gemaak moet word. Dit is nie net ’n belangrike werkskeppingsgeleentheid nie, maar as ’n bron van inkomste is dit ’n integrale deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie.  

Dit is waarom die navorsingseenheid Toerismenavorsing in Ekonomie, die Omgewing en die Samelewing (TREES) by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe van die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n deurslaggewende rol speel om te verseker dat hierdie sektor van ons ekonomie steeds floreer.

Die hoeveelheid navorsing wat deur die navorsingseenheid geproduseer word, is omvangryk, en daar is talle navorsers wat tot die sukses van die eenheid bydra. Om enigeen uit te sluit, sal onregverdig wees, en die doel van hierdie artikel is eerstens om so te sê, maar ons fokus gaan nou val op drie merkwaardige vroue wees wat leiers op hulle gebied is.

Eerstens is daar professor Martinette Kruger, wat ’n C#-navorsingsgradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) het. Prof Kruger het in 2019 die toekenning vir Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap se onderskeidende jong vrouenavorser vir die Geesteswetenskappe- en Sosiale Wetenskappe-kategorie by die gesogte Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekennings (SAWiSA) van die Departement van Wetenskap en Tegnologie ontvang. Haar navorsingsfokus is begrond in marksegmentering, wat sy op verskeie toerismesektore toepas, en sy wy haar loopbaan daaraan om die behoeftes van die toerismemark beter te begryp, en om te verstaan hoe toerisme in ’n ontwikkelende land en in die konteks van ’n multikulturele samelewing benut kan word. Sy het tot op hede meer as 120 artikels gepubliseer, waarvan meer as 70% in internasionale eweknie-beoordeelde vaktydskrifte gepubliseer is.

Dan is daar professor Lindie du Plessis, die direkteur van die Skool vir Toerismebestuur en senior navorser by TREES. Sy spesialiseer in mededingendheid in toerisme en bestuurskwessies in die toerismebedryf. Sy was op ’n dinamiese wyse by die bedryf betrokke deur met verskeie toerismeprojekte te help en sy het in 2018 ’n C3-gradering as ’n gevestigde navorser van die NNS ontvang. Sy was verantwoordelik vir agt hoofstukke in verskillende toerismehandboeke, het 46 geakkrediteerde artikels gepubliseer en het op die redaksie van die Journal of Revenue and Pricing gedien.  Sy is tans ’n lid van die Suider-Afrikaanse Instituut vir Bestuurswetenskaplikes, en dien op die raad van Toerisme-onderwysers van Suid-Afrika.

Die derde een van die drietal is professor Andrea Saayman, wat ’n dosent in Makro-ekonomie, Ekonometrie en Navorsingsmetodes is. Sy is ’n besoekende professor in Toerisme-Makro-ekonomie vir die meestersgraadkursus wat deur die Universiteit van Bologna, Italië aangebied word, sowel as ’n buitengewone professor by die Kore Universiteit van Enna, Italië. Sy is tans ’n C1-gegradeerde navorser. Sy het saam met kollegas by TREES meer as 100 projekverslae vir die privaat sektor voltooi. Sy dien sedert 2015 as uitvoerende lid van die Internasionale Vereniging vir Toerisme-ekonomie en is tans die voorsitter van hierdie vereniging vir die 2019–2022-termyn. Sy is ook die visevoorsitter van die Toerisme- en Gasvryheidsafdeling van die Internasionale Instituut van Voorspellers (IFF).

Dit is danksy die pogings van navorsers soos hierdie mense dat TREES en die NWU deur Suid-Afrika se toerismebedryf so hoog geag word.

....

Prof Martinette Kruger

 

....

Prof Lindie du Plessis

....

Prof Andrea Saayman

Submitted on Tue, 09/13/2022 - 11:57