Baie kleure, een doelwit: hardloop met passie vir genderbewustheid

Op Woensdag 6 September het die Fanie du Toit Sportterrein personeel en studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) verwelkom by die run-with-colour-fun-geleentheid wat gesamentlik deur die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, die Skool vir Menslike Bewegingskunde en die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) aangebied is.

Die gebeurtenis was meer as bloot ’n hardlopery in ’n verskeidenheid kleure. Die doel daarvan was om ’n bewustheid van gender- en identiteitskwessies in diverse kontekste te skep, asook om diversiteit en inklusiwiteit onder studente en personeel aan te moedig.

Die visekanselier, prof Bismark Tyobeka, het in sy kort welkomswoord die belangrikheid daarvan verduidelik om ’n omgewing te skep waar almal voel dat hulle veilig is, en gerespekteer en waardeer word.

“Die run-with-colour-fun is ’n unieke en kleurvolle manier waarop ons die belangrikheid kan beklemtoon om van stereotipes weg te breek, asook om die spektrum van genderidentiteite te omarm. Met hierdie kleurvolle dag demonstreer ons ons verbintenis om die grense af te breek wat ons kan inperk, en in plaas daarvan die bande wat ons as gemeenskap saambind, te vier.”

Prof Bismark Tyobeka en die NWU se Comrades-held, dr Adele Broodryk, het die resies op die parkeerterrein van die A-rugbyveld begin. Twee en ’n half kilometer om die sportveld en langs die Mooirivier af het gevolg. Die roete het verby die wêreldklasgeriewe van die NWU se Hoëprestasie-instituut vir Sport (HPI) en die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) gestrek.

Vyf kleurstasies met verskillende ten volle bio-afbreekbare en niegiftige gekleurde poeier is elke honderd meter verskaf om te verseker dat die deelnemers die resies vol kleur voltooi.

Prof Hans de Ridder, direkteur van die Skool vir Menslike Bewegingskunde, het die gebeurtenis as merkwaardig beskryf.

“Dit was ’n baie groot sukses en het gedemonstreer hoe baie ons Genderbewustheidsweek waardeer. Ons het in groot getalle opgedaag om ’n heerlike en kleurvolle dag te geniet.”

Hope Khanye, ’n tweedejaarstudent in Sportafrigting by die Skool vir Menslike Bewegingskunde, het gesê die gebeurtenis was genotvol en doeltreffend, aangesien hy sy fiksheid kon verbeter. Vir ’n oorsig oor die gebeurtenis, klik op die volgende skakel: https://youtu.be/gcUOkp1eBrM

 

....

Personeel en studente tydens die run-with-colour-fun-geleentheid

....

Prof Bismark Tyobeka tydens die run-with-colour-fun-geleentheid

Submitted on Fri, 09/08/2023 - 14:41