Dineo Mdingane het nog altyd geglo in die krag van die gemeenskap en die belangrikheid om ’n helpende hand na diegene in nood uit te steek. As die besturende direkteur van die Bafenyi Trust, ’n nie-winsgewende organisasie wat toegewy is daaraan om mense in moeilike omstandighede deur evangeliebediening en praktiese hulp op te hef, het sy haar passie in aksie omgeskakel.
Een van die trust se inisiatiewe wat die grootste impak maak, is ’n sopkombuis in Promosa in Potchefstroom.
Dit het in 2020 tydens die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie begin. Dineo en haar span by die Bafenyi Trust het die toenemende behoefte aan voedselsekerheid binne hulle gemeenskap raakgesien.
“Ons het begin om kospakkies aan gemeenskapslede in nood te stuur,” onthou sy. “Die regering het noodsaaklikediens-permitte uitgereik, en ons was gelukkig om een te ontvang.”
Die sopkombuis staan vandag nog sterk. Dit voorsien 11 groepe mense van kos – vyf wat op kinders gemik is en ses op volwassenes. Daar word elke week aan altesaam 1 300 mense maaltye verskaf.
Dit is net ’n klein deeltjie van die werk wat Dineo en haar span doen.
Brei uit na lewensvaardighede en opvoeding
“Die program het verder ontwikkel as bloot om vir mense kos te gee,” verduidelik sy. “Ons bied lewensvaardigheidsopleiding op gebiede soos ouerskap en finansiële bestuur aan, en help mense om meer selfonderhoudend te word. Ons moedig hulle aan om op ’n ander manier na hulle lewens te kyk.”
Vir die kinders het die Bafenyi Trust ’n naskoolse program wat ondersteuning in vakke soos wiskunde, Engels en Afrikaans gee, en help hulle om ’n positiewe ingesteldheid teenoor hulle studies in te neem.
Dineo se passie vir gemeenskapsbetrokkenheid kom uit haar eie akademiese en persoonlike ervarings. Sy het haar studies op die NWU se Mahikengkampus begin en vir maatskaplike werk ingeskryf omdat sy baie graag minderbevoorregte mense wou help.
Ná ’n jaar van studie in maatskaplike ontwikkeling het sy egter besef dat dit nie die regte ding vir haar is nie. Daardie besef het haar na sielkunde gelei, as gevolg van haar belangstelling in die geestes- en emosionele genesing wat in die landelike gemeenskappe nodig is.
Haar studies in sielkunde en sosiologie het aan haar die gereedskap verskaf om ’n betekenisvolle impak te maak, veral om die stigma rondom terapie te verbreek. Sy het in 2017 met ’n BA in sielkunde en sosiologie gegradueer.
Samewerking en konneksies
Die Bafenyi Trust se werk word in samewerking met ander, insluitende vrywilligers, gedoen. As deel van hulle 67 minute van diens vir Mandeladag het ’n span van die NWU se Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking-afdeling die Bafenyi Trust besoek. Hulle het namens die Alumniverhoudingekantoor kruideniersware geskenk en gehelp om kos vir die groepe voor te berei, en het so die konneksie versterk tussen die universiteit en die gemeenskap wat hulle dien.
Dineo beklemtoon die belangrikheid van samewerking en om noue bande te hê met diegene wat dieselfde oortuiging en missie as jy het. “Ons is daartoe verbind om mense te help wen, om ’n helpende had uit te steek waar ons ook al kan, aangesien die behoefte daar is, en omdat ons die kapasiteit en hulpbronne het om te help.”
Hulle werk is ’n kragtige herinnering aan wat vermag kan word wanneer ’n gemeenskap met ’n gedeelde doelwit en ’n deernisvolle hart saamkom.
Diep wortels in geloof en gemeenskap
Janneman van Wyk en Elsa Coetzee het die Bafenyi Trust in 2010 gestig. Dit het aanvanklik daarop gefokus om voorskoolse praktisyns te ondersteun deur hulle te help om by die relevante departemente te registreer en aan hulle opleiding te verskaf en van onderrigmateriaal te voorsien. Mettertyd het hulle missie uitgebrei namate hulle gesoek het om aandag te gee aan die breër behoeftes van die gemeenskappe wat hulle dien.
In die kern van alles wat die Bafenyi Trust doen, is ’n diepgewortelde toewyding aan geloof. “Ons is ’n geloofsgebaseerde organisasie, en terwyl ons daarop fokus om aan mense se praktiese behoeftes aandag te gee, is die deel van die evangelie die middelpunt van ons missie,” sê Dineo. Die trust word bedryf deur ’n begeerte om mense te help om nie bloot te oorleef nie, maar om te floreer. Ons rus hulle toe met die instrumente en ’n ingesteldheid om uit te blink en hulle lewens in ’n positiewe lig te beskou.
Progress Mpangane, Eagi, Dineo en Abigail Oliphant laai die donasie van die NWU se Alumniverhoudingekantoor af.
Spanlede van Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking en die Bafenyi Trust.