Atletiekklub vier prestasies

“Dit is die eerste atletiekfunksie in twee jaar,” sê Terseus Liebenberg – eweneens verlig en opgewonde – in die atletiekklubhuis op die Fanie du Toit-sportterrein.

Terseus, atletiekbestuurder van die atletiekklub op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus sê dit was ’n buitengewone jaar vir atletiek by die universiteit.

“Vyf klublede was Olimpiese Spele toe, en sewe of agt van ons atlete het meer as 1 100 punte aangeteken. Vir ʼn klub is dit ongelooflik. Ons afrigters doen besondere werk en ons toekoms lyk blink. Ons is nie ʼn klub wat op ons louere rus nie.”

Daar is tydens die funksie nie net hulde gebring aan die NWU se uitstaande atlete nie, maar ook aan ʼn paar groot geeste wat van dié klub ʼn sukses maak.

Een van hulle was Hennie Botha, wat 20 jaar lank as die klub se voorsitter gedien het. “Hennie rig al af vandat ek in die kleuterskool was,” het Terseus geterg.

Ook teenwoordig was Suid-Afrika se hamergooi-legende, Chris Harmse. Hy is die afrigter van die broer-en-suster-hamergooiduo, Marga en Alan Cumming.

Nie net het Chris 23 nasionale titels nie, maar hy het ook een van die verste gholf-dryfhoue in die land, met die verste hou wat 405 meter getrek het.

Wat die atlete betref, is Zak Nene as Mansatleet van die Jaar aangewys vir sy voortreflike vertoning in die 400 m, en die Vroueatleet van die Jaar was die spiesgooi-fenomeen Jo-Ané van Dyk.

Liezel Gouws is as die Paralimpiese-atleet van die Jaar aangewys, die Junior Vroueatleet van die Jaar was die kanniedoodstapper Marissa Swanepoel, en die Junior Mansatleet van die Jaar was Keanu Domingo, wat sy naam in die 1 500 m gemaak het.

....

Jo-Ané van Dyk is as die NWU se atletiekklub op die Potchefstroomkampus se Sportvrou van die Jaar aangewys.

 

 

Submitted on Thu, 11/11/2021 - 14:31