Die argumente wat deur die meerderheid van die lede van die Monetêre Beleidskomitee (MBK) voorgehou word om die repokoers op hierdie stadium met 25 basispunte te verhoog, is nie oortuigend nie.
Dit is die mening van prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU). In sy kommentaar oor die besluit van die MBK van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), sê prof Parsons die verdeelde stem van 3:2 in die MBK bevestig dat daar ook tans oortuigende argumente ten gunste daarvan is om enige styging in rentekoerse in Suid-Afrika eerder nou uit te stel.
“Die beskikbare ekonomiese data kon net so wel anders geïnterpreteer gewees het, met duidelike ruimte vir verdeelde evaluerings. Die Suid-Afrikaanse ekonomie herstel steeds van die skokke van die Julie-onrus, beurtkrag en die pandemie – met sake- en verbruikersvertroue wat swak bly. Die MBK self sê ook dat die burgerlike onrus van Julie en beurtkrag ’n blywende impak op beleggings en werkskepping sal hê.”
Op die inflasiefront sê prof Parsons die argumente ten gunste daarvan om die rentekoerse liefs eers onveranderd te laat ook insluit dat, volgens die SARB, die “kern”-inflasievooruitsig matig bly en dat prystendense inderdaad naby aan die middelpunt van 4,5% binne die inflasieteikenband sal bly.
“Ten spyte van die verwagte hoër risiko’s vir die korttermyn-inflasievooruitsig – wat egter in elk geval nou al vir ’n paar maande verwag word – het die MBK op hierdie stadium besluit om nie, soos vroeër belowe is, na huidige oorkoepelende prysstygings te kyk nie. Geadministreerde pryse was skynbaar die vernaamste skuldiges, nie enige bedreiging van vraaginflasie nie. Wêreldwye inflasie is nie baie relevant nie.”
Hy sê watter tegniese faktore van die Kwartaallikse Projeksiemodel (KPM) ook al die MBK se meerderheidsbesluit kon beïnvloed het, sy jongste oordeel oor rentekoerse dus ook anders geïnterpreteer kan word.
“Hoewel die goeie nuus is dat dit slegs ’n klein verhoging in rentekoerse is, dit nietemin ’n opwaartse draaipunt in leenkoste inlui, wat op ’n belangrike stadium in Suid-Afrika se sakesiklus kom. Van nou af kan daar slegs verwag word dat rentekoerse sal styg indien die herhaalde verwysing na die KPM enige aanduiding is. Hoewel die monetêre beleid nie die swaar werk kan verrig wat nodig is om die ekonomie op ’n hoër groeitrajek te plaas nie, behoort dit ook nie ’n risiko te word wat op hierdie stadium ’n hindernis vir ekonomiese herstel word nie.”
Daarbenewens bly die MBK se ekonomiese groeivoorspellings op ’n matige 1,7% en 1,8% in 2022 en 2023 onderskeidelik – met negatiewe risiko’s, beklemtoon die MBK.
Volgens prof Parsons sal die volle effek van die stygende rentekoerssiklus – in die lig van die gewone tydsvertragings in monetêre beleid – in daardie periode gevoel word.
“Dit is dus ’n werklike vraag tot watter mate die vooruitsig van hoër leenkoste nou ’n negatiewe impak op die huidige vlakke van sake- en verbruikersvertroue en op groeivooruitsigte sal hê. In die lig van die heersende ekonomiese onsekerhede kan ’n mens dus net so wel redeneer dat die MBK waarskynlik langer kon gewag het voordat die verhoogde rentekoerssiklus geïnisieer is.”