Dit is ’n weeksdag. Die oggenddou begin verdwyn en Johannesburg is nog half aan die slaap. Die relatiewe kalmte bring ʼn lafenis voordat die dag se storm losbars. Geen kalmte egter vir Annemie Bester nie. Waar sy by Emirates Airline Park – oftewel Ellis Park in volksmond – indraai, wil sy op geen ander plek wees nie. Wat voorlê, is ʼn geskrum en ’n losgemaal, ’n geoefen en bloedsweet as voorbereiding vir die naweek waar die strydbyle gaan swaai en nekke gaan draai.
Rugby is kos vir hierdie voormalige dosent in Kommunikasie van die Noordwes-Universiteit.
Sy is so uniek soos ʼn driekuns drieë; een van die min vrouejoernaliste wat daarin geslaag het om dié sport se vooropgestelde idees van beriggewing te breek. Heeltemal. Haar kundigheid en skryfvernuf het haar van jongs af al ʼn formidabele sportskrywer gemaak, en later sou sy ook vir die Luiperds- en Leeus-rugbyunies haar staal as mediabeampte wys.
Maar steeds is Annemie se storie ’n bietjie anders.
Min mense wat haar ken en nog minder van die res weet dat Annemie se grootwordtyd tussen Suid-Afrika en die VSA verdeel was. Sasolburg, Los Angeles, Secunda, Newcastle– daar het sy as jong vrou haar voetsole deurgeloop.
Sy het haar tande by die dagblad Beeld geslyp deur oor “kleiner” sportsoorte te skryf: “Vir alles wat die mans nie wou doen nie, het ek my beskikbaar gestel. So het ek oor elke sportsoort geskryf – tot kleiduifskiet.”
Maar, sy wou oor rugby skryf. “Dit was vir die topsportskrywers gereserveer.” Toe word sy een. Oor koppies koffie saam met Eugene Eloff in Cresta – dáái tyd die Leeus se o.21-afrigter – het sy die spel geleer en die nuanses daarvan bemeester. Sy was ook een van die eerste joernaliste wat lesers in vrouerugby laat belangstel het.
ʼn Loopbaan in ink en digitaal het gevolg voordat sy haar stewels as mediabeampte by die Leeus gaan inplant het. Dit is by laasgenoemde waar sy tans – en oudergewoonte – ʼn groot indruk laat.
“My beste rugbyoomblik was ongetwyfeld die Vodacom Super Rugby-eindstryd in 2017 teen die Crusaders wat ons aangebied het. Dit was ʼn absolute perfekte dag wat die beplanning en die voorbereiding betref. Ons het 62 000 mense in die stadion gehad en soveel buitelandse media. Dit was 100% dié perfekte dag. Dit was ook emosiebelaai, want dit was Johan Ackerman se laaste wedstryd as afrigter.”
ʼn Rooikaart teen Kwagga Smit het die Leeus van hulle vuurwerke weerhou en die Crusaders het geseëvier. “Niemand het gedink die dag sou so eindig nie, want dit het perfek begin. Dit was ʼn hoogtepunt en ook ʼn hartseer dag, maar ʼn dag wat ek vir altyd sal onthou omdat ek so trots is op die manier waarop die dag aangebied was.”
Benewens rugby is haar drie dogters haar trots en geluk. Sy is eerstens “Ma”, dan moeder vir soveel spelers vir wie sy al deur die jare leiding gegee het. Dit is in haar bloed.
Eiesoortig en formidabel. Sy is Emirates Park se Ystervrou.
Annemie op haar geliefde Emirates Airline Park
Annemie en Lionel Mapoe spreek die media toe.