Alumnus dra statige visekanselierskleed

Wanneer rugby-oefening met aandklasse bots, is fyn voetwerk nodig. Prof Henk de Jager – alumnus en nuwe visekanselier en prinsipaal van die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) – moes vroeër fyntrap tussen sy sport en die akademie terwyl hy by die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark studeer het.

Nadat hy sy meestersgraad in ingenieurswese verwerf het, het Henk in bedryfsielkunde begin belangstel en in 1988 begin om aandklasse by te woon: drie aande per week van 18:30 tot 22:40. Hy is vandag as prof Henk de Jager bekend en staan aan die hoof van SUT in Bloemfontein.

Met byna drie dekades se ervaring in hoër onderwys, het Henk beslis hierdie gesogte titel verdien. Hy het vyf jaar as uitvoerende dekaan aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit deurgebring, en tussen 2012 en vroeg in 2017 was hy adjunk-visekanselier by SUT. Sy volgende belangrike loopbaanmylpaal was op 30 Junie 2017, toe hy sy intreerede as SUT se visekanselier en prinsipaal gelewer het.

Studentelewe

“Ek onthou dat ek ’n bietjie laat was vir die klasse op Maandae en Woensdae omdat ek rugby-oefening gehad het.”

As hy steeds geklee in sy rugbytrui in die klas aankom, het die dosente grappenderwys na hom verwys as “die rugbyspeler wat altyd laat is vir klas”. 

Die kampus het spoedig sy tweede tuiste geword. Hy noem prof Marius Stander, prof Joppie van Graan en prof Dap Louw as sy gunstelingdosente in sielkunde en bedryfsielkunde, en prof Wynand Grobler as sy gunstelingdosent in ekonomie. “Hulle was sulke uitstekende dosente en wonderlike mense. Dit was ’n voorreg om by hulle klas te loop.”

Rolmodel

Hy dink aan Nelson Mandela as sy rolmodel omdat dit Mandela se doel was om te lei deur mense te dien. Wanneer ’n mens hom vra oor die nalatenskap wat hy wil agterlaat, sê Henk hy wil ’n verskil in die lewens van ander maak en so veel mense as moontlik help om hul volle potensiaal te bereik.

Bring tyd in die natuur deur

Hy is getroud met dr Miemsie de Jager, wat ook haar PhD aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark verwerf het. Die egpaar het twee kinders, Melandie en Henko. Die gesin hou daarvan om die Drakensberg te besoek wanneer hul besige skedules dit toelaat.

Henk is ’n kranige bergfietsryer en droom daarvan om langs die Seekus van die Dood te stap en om ná sy aftrede te boer. Op 52 lê dit nog ’n paar jaar in die toekoms, wat beteken dat daar nog ’n redelike tyd oor is om sy voetspore in die hoëronderwyssektor na te laat.

“Jy moet die verandering wees wat jy in die wêreld wil sien. Moet nooit jou integriteit inboet nie, en vertrou God vir leiding in elke situasie,” sê hy.

Prof Henk de Jager

Submitted on Fri, 02/09/2018 - 10:55