Alternatiewe maatreëls vir kansellasie van skuld onder die soeklig

Talle Suid-Afrikaners wat in skuld verdrink, kan ’n potensiële reddingsboei ontvang ná ’n studie deur die Noordwes-Universiteit (NWU) se meestersgraadgegradueerde Paballo Mothibi oor die kansellering van skuld van diegene wat geen inkomste of bates het nie.

Die onderwerp van die studie is “Alternative measures for the discharge of debts for over-indebted persons under debt-related legislation in South Africa”.

Die studie bespreek die probleme van mense in Suid-Afrika wat te veel skuld het om voldoende kansellasie van hul skuld te kry. Dit ondersoek ook hoe die land se skuldverwante wetgewing die kanse beperk dat hierdie mense hul skuld gekanselleer kan kry.

Die kwessie wat natuurlike persone in Suid-Afrika wat oorverskuldig is in die gesig staar, is nie dat daar geen maatreëls vir die kansellasie van skuld beskikbaar is nie, sê Paballo. Dit is dat die bestaande maatreëls ingevolge die Insolvensiewet – die primêre wetgewing wat vir die formele, statutêre kansellasie van skuld voorsiening maak – baie mense uitsluit om kansellasie van skuld te ontvang. As hulle nie aan die vereistes van die Insolvensiewet voldoen nie, kan hulle nie vir kansellasie van skuld in aanmerking kom nie.

“Die meeste van hierdie skuldenaars wat uitgesluit word, val binne die kategorie van geen inkomste en geen bates nie (NINA),” sê Paballo.

Wat die probleem erger maak, is dat ander skuldverwante wetgewing óf nie vir omvattende kansellasie van skuld voorsiening maak nie, óf geen voorsiening maak vir enige kansellasie van skuld nie.

Ingevolge die Nasionale Kredietwet of administrasiebevele ingevolge die Wet op Landdroshowe kan oorverskuldigde individue van skuldhersiening gebruik maak om die sekwestrasieproses te omseil. Nóg die skuldhersiening nóg die administrasiebevele maak egter vir ’n kansellasie van skuld voorsiening, maar net vir die herstrukturering van skuld om uiteindelik die krediteure tevrede te stel.

Paballo stel dus omvattende hervormings aan die huidige maatreëls vir die kansellasie van skuld onder die Wet op Landdroshowe, die Nasionale Kredietwet, die Nasionale Krediet-wysigingswet, die Wet op Verbruikersbeskerming, die Wet op Skuldinvorderaars, die Verjaringswet en die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor voor.

Paballo beveel aan dat die Nasionale Krediet-wysigingswet ’n meganisme moet verskaf vir die kansellasie van skuld van skuldenaars wat nie aan die vereistes van sekwestrasie-opdragte ingevolge die Insolvensiewet voldoen nie.  

Die navorsing is tydig en beklemtoon wat vereis word om die gaping in huidige wetgewing te vul om die toenemende getal skuldenaars te help.

Paballo Mothibi

Paballo Mothibi.

 

Submitted on Wed, 05/05/2021 - 12:26