“Dis ’n leerervaring sonder weerga.” Dit is hoe prof Petra Bester, direkteur van die Afrika-eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR) by die Noordwes-Universiteit (NWU), die eenheid se blootstelling aan die binnewerking van Noordwes-provinsie se pogings om die Covid-19-pandemie hok te slaan, beskryf.
In die vroeë dae van die pandemie het AUTHeR met ’n unieke reis saam met Noordwes se Departement van Gesondheid (NWDvG) begin – ’n reis wat die waarde van transdissiplinêre navorsing beklemtoon.
Prof Bester sê dat verskeie akademici saamgewerk het in wat as die NWU/NWDvG Covid-19-taakspanne bekend geword het, naamlik die epidemiologiese taakspan en die tegniese taakspan.
Die epidemiologiese taakspan het regdeur April en Mei 2020 die geprojekteerde impak van Covid-19 op Noordwes-gebaseerde gesondheidsgeriewe bereken. Dit het die adjunk-direkteur-generaal van die departement in staat gestel om ingeligte besluite te neem oor hoe om gesondheidshulpbronne aan te wend.
“Die tegniese taakspan het terselfdertyd die optimalisering van bestaande databasisse en ’n Covid-19-PowerApps-oplossing vir die bestuur van die beskikbaarheid van beddens, suurstof en persoonlike beskermende toerusting (PPE), voorgestel,” sê sy. Hierdie span het ook voorgestel dat mense wat die hoogste risiko loop om die virus op te doen, gesif en getoets moet word.
AUTHeR se betrokkenheid het sy personeel in ’n unieke posisie ten opsigte van die pandemie geplaas. “Om by die chaos agter die skerms en by die dringendheid van ’n oorlogkamer ten opsigte van die pandemie toegelaat te word, het ’n leerervaring sonder weerga geword.”
Prof Bester sê dat hierdie skynbaar gedisorganiseerde ruimte die sistemiese kompleksiteite van ons verdeelde samelewing beklemtoon het en veelvuldige uitdagings blootgelê het, waarvan nie een ’n eenvoudige oplossing het nie.
“Ons het gevind dat vinnige gesondheidsinligtingstelsels en hoëtegnologie- mediese toestelle in disfunksionele gesondheidstelsels betekenisloos is,” voeg sy by.
“Gesondheidsopvoedingsinisiatiewe om voorsorgmaatreëls in plek te stel, soos om jou hande te was, ’n fisiese afstand te handhaaf en gesigmaskers van lap te dra, het samesweringsteorieë, stigma en vrese na vore laat kom.
“Covid-19 het weer eens die bestaande las van leefstylsiektes beklemtoon, aangesien die kwesbares deur isolasie weggesteek was. Dit het ook die onmoontlikheid beklemtoon om jouself in ’n enkelkamerpondokkie te isoleer. Ons het almal eerstehands gesien hoe oorbevolking, swak voedselomgewings, gebrek aan skuiling, strukturele armoede, werkloosheid en lae geletterdheidsvlakke swak gesondheidsuitkomste bepaal,” sê prof Bester.
“Dit was ’n eggo van die Lalonde-verslag (1981) en die Ottawa-handves vir gesondheidsbevordering (1986) wat eers vier dekades later weer na vore gekom het,” sê sy, met verwysing na die eerste internasionale verslae oor die invloed van leefstyl- en omgewingsfaktore op gesondheid.
Prof Bester sê dat die onbedoelde gevolg van die Covid-19-pandemie die validering van transdissiplinêre gesondheidsnavorsing was.
AUTHeR is een van die eerste transdissiplinêre navorsingsentiteite wat wêreldwyd gevestig is. Hulle navorsing sluit ’n 16 jaar lange PURE-SA-studie in, ’n longitudinale epidemiologiese navorsingstudie waarin die eenheid se prof Lanthé Kruger die onbeheerde chroniese siekteprofiel van Noordwes-gemeenskappe as ’n komplekse en sistemiese uitdaging bevestig het.
“PURE-SA het tot meer as 140 nasionale en internasionale eweknie-beoordeelde publikasies en meer as 80 nagraadse studie gelei. Dit bevestig dat tradisionele biomediese navorsing alleen nie die enorme probleme wat deur die Covid-19-pandemie na vore gekom het, kan hanteer nie.”
Met sy transdissiplinêre navorsingsvermoë kan AUTHeR inderdaad sy tyd vooruit wees, wat in hierdie uitdagende tye presies kan wees wat die dokter voorgeskryf het.
Prof Petra Bester.