Afrika-unie en Afrika-universiteite moet kennis neem van waterskeidingsuitspraak

Die volgende artikel is ʼn meningstuk deur dr Ilyayambwa Mwanawina, ʼn kundige wat betref streeksintegrasie, internasionale reg, goeie korporatiewe bestuur en menseregte aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Hy verduidelik wat hierdie waterskeidingsuitspraak beteken vir die Afrika-unie en Afrika-universiteite – veral met betrekking tot Afrika-integrasie.

Die Amerikaanse beslissing

Die Trump-administrasie se Uitvoerende Bevel 13769, “Protecting the Nation From Foreign Terrorist Entry Into the United States” (wat burgers van sewe lande vir 90 dae lank toegang tot die Verenigde State verbied, en ook ander wysigings aan emigrasiebeleid en -prosedures aanbring), het wêreldwyd skerp reaksie ontlok. Die bevel is suksesvol teengestaan deur die deelstate van Washington en Minnesota, en ongrondwetlik en onwettig bevind. Die bevel het burgers van dié lande gestrand gelaat in die buiteland, gesinne verdeel, en die ekonomie en universiteite skade berokken. Die twee state het ʼn reeks argumente aangevoer om aan te toon dat die uitvoerende bevel groot nadele vir hulle inhou. Die Universiteit van Washington het byvoorbeeld geïllustreer dat hulle in die proses was om drie voornemende werknemers afkomstig van lande wat deur die uitvoerende bevel geraak word te help om visums te bekom, sowel as vir twee mediese en wetenskap-interns. Beide state het ook aangevoer dat hul onderwysstelsels ʼn missie van “globale betrokkenheid” onderskryf en dat die uitvoerende bevel hulle dus verhoed om hierdie missie na te streef.

Afrika-integrasie

Die Afrika-unie en sy regionale ekonomiese gemeenskappe het verskeie planne en ooreenkomste aanvaar wat gemik is op die bevordering van die pan-Afrikaanse integrasie-agenda. Sommige van hierdie protokolle behels dat lidstate aangemoedig word om te streef na die uiteindelike eliminering van immigrasieformaliteite ter fasilitering van vrye beweging van geskoolde werkers op die kontinent. Die rasionaal agter hierdie protokolle is om te verseker dat persone wat ʼn positiewe bydrae kan lewer tot die bevordering van maatskaplike, ekonomiese en wetenskaplike ondernemings op die kontinent toegelaat word om dit te doen vanaf enige land, en sonder dat daar te veel klippe in sy of haar pad gerol word. Dit is omdat daar erkenning gegee word aan die behoefte aan ʼn wye verskeidenheid talente en vaardighede dat sommige Afrikalande, met inbegrip van Suid-Afrika, visumreëlings aanvaar het wat dit vir die industrie moontlik maak om verder te kyk as die politieke grense waarbinne hulle tot stand gebring is en funksioneer.

Implikasies vir die hoëronderwyssektor

Uit die Times Higher Education World University Rankings blyk dit duidelik dat die Verenigde State hierdie rangordening domineer. Hoewel sommige mense hul bedenkinge het oor die wyse waarop hierdie ranglys opgestel word, is die wetenskaplike bydraes wat deurlopend by hierdie instansies opgelewer word onbetwisbaar. Nóg iets wat duidelik na vore gekom het, is die vasberadenheid waarmee hierdie instansies in Washington en Minnesota die presidensiële uitvoerende bevele teengestaan het. Hulle het aangevoer dat hul opvoedkundige doelwitte en sukses “onlosmaaklik verbonde” is aan besoekende studente, wetenskaplikes, en akademiese personeel wat in sommige gevalle afkomstig is van, of bande het met, die lande wie se burgers vir die afsienbare toekoms nie toegelaat word om die Verenigde State binne te gaan nie. Dit is dus beslis so dat ten minste ʼn gedeelte van die wetenskaplike vooruitgang in Amerika aan die intellektuele pogings van nie-Amerikaners te danke is.

In die strewe na meer betekenisvolle integrasie het die Afrika-unie ook erkenning verleen aan die belangrikheid daarvan om ʼn beroep op lidstate te doen om hul immigrasieregulasies in heroorweging te neem. Tot dusver het die politieke wil egter ontbreek aangesien daar ʼn tendens is om te fokus op nasionale belange ten koste van die streek se doelwitte. Die burgerlike samelewing se gebrekkige begrip vir die moontlikhede van streeksintegrasie vererger in ʼn mate die gebrek aan politieke wil. Wat nodig is om voordeel te trek uit ʼn verenigde Afrika is die doelgerigte pogings van alle belanghebbendes op die vasteland.

 


Dr Ilyayambwa Mwanawina

 

Submitted on Thu, 03/09/2017 - 14:53