Afrika span saam om voeding-kundigheid na die vasteland te bring

• Mikronutriënttekorte is baie algemeen in Afrika en is een van die belangrikste faktore wat geassosieer word met groeivertraging, swak immuunfunksie en kindersterftes.
• ʼn Nuwe meestersgraadprogram in Voeding met Kerntegnieke sal help om wanvoeding in Afrika te bekamp.
• Rolspelers van regoor die vasteland werk saam om beter voeding vir alle Afrikane te verseker.

Volgens die 2023-verslag van die Africa Regional Overview of Food Security and Nutrition – Statistics and Trends is Afrika se wanvoedingsyfers verbysterend. Meer as 280 miljoen mense op die vasteland, oftewel 20% van die bevolking, is ondervoed. Hierdie syfer verteenwoordig ʼn toename van bykans 60 miljoen mense sedert die begin van die COVID-19-pandemie.

Dit is ʼn massiewe probleem, en minstens ʼn deel van die antwoord lê opgesluit in die minuskule.

Kerntegnologie speel ʼn deurslaggewende rol op die gebied van voeding, veral deur diagnostiese tegnieke, en nou sal hierdie tegnieke meer nougeset as ooit tevore ingespan word om die gety van wanvoeding te help stuit.

Rolspelers van regoor Afrika, in vennootskap met die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA), onderneem ʼn vier jaar lange projek om kapasiteit te bou om van stabiele-isotoop-tegnieke gebruik te maak om die mikronutriëntstatus van kinders in Afrika te verbeter. Stabiele isotope is nie-radioaktiewe atome van dieselfde element met dieselfde aantal protone, maar ʼn ander aantal neutrone, en kan as doeltreffende, veilige en presiese merkers dien om areas te identifiseer wat wanvoeding beïnvloed.

Die gevolglike program is ʼn MSc (meestersgraad) in Voeding met Kerntegnieke. Die IAEA beoog om hierdie kurrikulum in Afrika te implementeer, aangepas deur elke spesifieke Afrika-universiteit in sy eie formaat, maar ook in ʼn sekere mate gestandaardiseer.

Die program is reeds in werking, met die Noordwes-Universiteit (NWU) in Suid-Afrika wat die hoofgasheer vir Engelssprekende studente is, en Marokko wat gasheer speel vir Franssprekende studente. Ghana, Senegal en Zambië sal die program volgende implementeer, gevolg deur ʼn voorgestelde 37 ander Afrikalande.

Prof Linda Malan, van die NWU se Sentrum vir Uitnemendheid in Voeding, wat gehelp het om die kurrikulum vir die MSc in Voeding met Kerntegnieke te ontwikkel, verduidelik die dilemma wat Afrika in die gesig staar: “ Mikronutriënttekorte is baie algemeen in Afrika en is van die belangrikste faktore wat geassosieer word met groeivertraging, morbiditeit, mortaliteit, stadige psigomotoriese ontwikkeling, en swak immuunfunksie by kinders. Mikronutriënttekorte raak ook vroue op ʼn vrugbare ouderdom, met beduidende nadelige gevolge vir die voedingspeil en gesondheid van hulle kinders, wat ook hul ontwikkeling en menslike potensiaal inperk. Byvoorbeeld, 40% van alle vroue op ʼn vrugbare ouderdom in Afrika ly aan bloedarmoede, en ongeveer die helfte van die gevalle is weens ʼn ystertekort. Kinders se dieet in Afrika is oorwegend plantgebaseerd, wat dikwels onvoldoende of swak opneembare mikronutriënte, soos yster en sink, verskaf.”

Sy wys ook daarop dat plantgebaseerde voedsel natuurlike verbindings (antinutriënte) bevat wat inmeng met die opname van mikronutriënte en dit beperk. “Dit is dus belangrik om diëte te ontwerp wat die opname van mikronutriënte uit voedsel bevorder. Daar is egter beperkte tegniese kundigheid en laboratoriumkapasiteit in Afrika om die biobeskikbaarheid van mikronutriënte uit voedsel te evalueer en hoe dit verband hou met mikronutriëntstatus in kwesbare groepe soos kinders en swanger en lakterende vroue.”

Hierdie nuwe Magister Scientiae – of MSc – program sal help om kapasiteit te bou deur die nodige kurrikulums te ontwerp, gevolg deur die inskrywing en opleiding van studente in die volgende fase van ʼn tweejaar akademiese program. Die kurrikulum sal ʼn reeks stabiele-isotoop-tegnieke dek, insluitend dié vir die assessering van yster-, sink- en vitamien A-absorpsie.

“Die projek sal deelnemende Afrika-lidlande help om kapasiteit te bou om intervensies te ontwerp en te evalueer om mikronutriënttekorte vir beter gesondheid en ekonomiese ontwikkeling aan te spreek,” sê prof Malan.

Met Afrika-universiteite, Verenigde Nasies-agentskappe soos die IAEA en die Wêreldgesondheidsorganisasie, en Afrika-regerings – met inbegrip van ministeries van gesondheid, onderwys, landbou en ander – wat saamwerk, kan die plaag van wanvoeding wat die vasteland teister stelselmatig uitgeroei word.

...

Prof Linda Malan

Submitted on Wed, 03/27/2024 - 10:22