Afrika-pluimbalkampioenskapstoernooi in Benoni

Afrika se toppluimbalspelers – waaronder drie studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) – het van 13 tot 29 Februarie by die John Barrable-saal in Benoni aan die Oos-Rand bymekaargekom om vas te stel wie ’n pluimbalraket die beste kan swaai.

Die geleentheid was die All Africa-pluimbalkampioenskap en die NWU-studente was Deidré Jordaan, Diané Olivier en Jarred Elliot.

Jordaan, wat al regoor die wêreld op podiums gestaan het, het goud in die vrouedubbelspel saam met haar spanmaat, Amy Ackermann, ’n matriekleerder van St Dunstans College in Benoni, gewen. Hulle was tweede gekeur vir die toernooi. Die Suid-Afrikaners het hulle Nigeriese eweknieë in die finaal met 21–19 en 21–12 gewen.

Volgens Johann Sauer, sportbestuurder by die NWU se Potchefstroomkampus, is dié twee tans 77ste op die wêreldranglys. “Hulle sal danksy hierdie oorwinning waarskynlik ’n paar plekke opskuif, wat belangrik is, aangesien hulle in die top-50 moet wees indien hulle vir volgende jaar se Olimpiese Spele in Parys, Frankryk wil kwalifiseer.”

Jordaan se medalje-oes was nog nie verby nie. Sy het ook in die gemengde dubbels saam met haar maat, Robert White, brons gewen.

In die mansdubbels het NWU se Jarred Elliott goud gewen saam met sy spanmaat, Robert Summers, nadat hulle die viermalige kampioene, Egipte, in drie stelle geklop het voordat hulle vir Algerië in die finaal met 21–13 en toe 21–17 getroef het.

Dit was ’n wonderlike prestasie deur ’n groep toegewyde atlete, en dit toon weer eens dat die NWU die leier in ’n groot aantal sportkodes is.

....

Die uitstekende driehoek

Submitted on Mon, 03/13/2023 - 09:40