Afrika-kruie en nanotegnologie ’n kombinasie met ongelooflike resultate

Mieliesaad loop vinnig uit en word florerende saailinge wanneer dit voorvoer-bemesting kry wat gemaak is van nanodeeltjies wat uit ’n inheemse Afrika-krui, impepho, verkry is.

Hierdie kragtige krui (helichrysum odoratissimum), ook bekend as kooigoed en Afrika-salie, is die kern van die navorsing van dr Bongiwe Dhlamini-Zungu, ’n onlangse PhD-gegradueerde in chemie aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Haar studie fokus op die ontwikkeling van nano-gemanipuleerde, omgewingsvriendelike misstowwe om oesopbrengste met minder insette te verhoog.

Dr Dhlamini-Zungu se doelwit is om aandag te gee aan voedselsekerheid en omgewingsvolhoubaarheid en sy het sink- en ysteroksied-polisakkariedgebaseerde nanodeeltjies met behulp van ekstrakte van impepho gemaak. Haar studie het getoon dat impepho gehelp het om hierdie nanodeeltjies te maak deurdat dit as ’n reduseermiddel optree en suurstof verskaf.

Die nanodeeltjies is dan bedek met ’n chitosaan-biopolimeer – ’n ekovriendelike stof wat van die buiteskelet van skulpvis gemaak word. Dit veroorsaak dat die nanodeeltjies stadig met verloop van tyd voedingstowwe vrystel, wat verseker dat die plante ’n konstante voorraad voedingstowwe ontvang.

“Die innoverende aspek van my navorsing was die aanwending van hierdie sinkoksied- en chitosaangebaseerde nanodeeltjies as nano-voorvoeragense op mieliesaad,” sê dr Dhlamini-Zungu. 

“Die resultate was merkwaardig: ontkieming van saad en vroeë saailinggroei van mielies is beduidend verbeter, selfs onder soutstrestoestande. Dit demonstreer die potensiaal van nanotegnologie in die bevordering van aanpasbaarheid en produktiwiteit van gewasse in uitdagende omgewingstoestande.”

Dr Dhlamini-Zungu se bevindings bied ’n belowende benadering tot die bevordering van volhoubare landbou met behulp van inheemse plante. Deur die unieke eienskappe van nanodeeltjies te benut, bied haar navorsing ’n oplossing wat nie net plantvoeding bevorder nie, maar ook die omgewingsvoetspoor van landboupraktyke verlaag. Die stem ooreen met die wêreldwye pogings om meer volhoubare en doeltreffende landboustelsels te ontwikkel.

Meer oor dr Dhlamini-Zungu

Dr Dhlamini-Zungu het in 2016 as navorsingsassistent onder die nanotegnologiegroep en vanaf 2017 tot 2022 as ’n studente-laboratoriumassistent by die vakgroep Chemie by die NWU gewerk. Sy was derde in die institusionele Drieminutetesis-kompetisie (3MT) en in 2022 ’n nasionale 3MT-wenner. Haar PhD-studie is getiteld “Engineered polysaccharide-based nanoparticles as hybrid fertilizer for efficient plant nutrition and stress tolerance”.

Tot dusver het haar PhD-navorsing twee gepubliseerde artikels tot gevolg gehad: "Nano-engineering metal-based fertilizers using biopolymers: An innovative strategy for a more sustainable agriculture” in 2022, en “Zn-nutrients-loaded chitosan nanocomposites and their efficacy as nano-priming agents for maize (Zea mays) seeds” in 2023.

Dr Bongiwe

Dr Bongiwe Dhlamini-Zungu.

Submitted on Fri, 08/30/2024 - 10:43