Die Nedbank Capital Expenditure Project Listing, wat ’n dramatiese afname in vastebeleggingsaktiwiteite in die eerste helfte van 2023 toon, laat ’n sterk rooi lig oor toekomstige beleggings- en groeitendense in die Suid-Afrikaanse ekonomie flits.
Dit gebeur terwyl aanhoudende kragonderbrekings, stygende rentekoerse en kostedruk ’n uitwerking op winsgewendheid het en sakevertroue wegvreet
In kommentaar oor die opname sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, daar word algemeen erken dat, indien Suid-Afrika groeikoerse wil behaal wat 3% per jaar oorskry en werkloosheid wil verminder, moet totale vaste belegging ongeveer 25% van die bruto binnelandse produk (BBP) wees.
“Hierdie verhouding is tans op slegs ongeveer 14% van BBP, wat onvoldoende is om in Suid-Afrika se sosio-ekonomiese behoeftes te voorsien. Die Nedbank-opname is dus nie goeie nuus op hierdie front nie.”
Volgens prof Parsons is dit veral die geval omdat dit privaat vaste belegging is wat die grootste afname ervaar het. “Daar word algemeen aanvaar dat die privaat sektor die grootste enkele skepper van werk in die ekonomie is. Die opname dui daarop dat openbaresektorbelegging gelukkig positief is, maar die matige oorkoepelende herstel in bruto vastekapitaalvorming sukkel om momentum te behou.”
Hy verduidelik dit is hoofsaaklik die vlakke van beleidsonsekerheid en swak vertroue wat firmas oorreed om belangrike beleggingsplanne te vertraag of uit te stel.
“Die boodskap van die Nedbank-opname is dus dat die skerp afname in nuwe beleggingsplanne daarop dui dat die negatiewe risiko’s vir die groeivooruitsig in 2024 en daarna groter kan wees as wat voorheen verwag is.”
Prof Parsons sê die oorkoepelende oplossing is om te verseker dat die energie-uitdaging beter hanteer word, en dat die implementering van noodsaaklike strukturele hervormings versnel word. Hierdie stappe kan beleidsonsekerheid verminder en vertroue verbeter.