Afgraderings beklemtoon noodsaaklikheid om ekonomiese narratief te verander

Die jongste besluite deur Fitch en Moody’s om Suid-Afrika se beleggingsgradering verder in rommelstatus in af te gradeer, is nie goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse ekonomie nie.

Prof Raymond Parsons, ekonoom by die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool, sê dat dit weer eens die dringende behoefte beklemtoon dat Suid-Afrika sy ekonomiese narratief moet verander.

“Hoewel Standard and Poor’s hul beleggingsvooruitsig voorlopig neutraal gehou het, bly dit ’n feit dat dit, in die geheel gesien, Suid-Afrika se swakste gradering ooit is, en dit word verder deur Covid-19 gekompliseer. Hierdie graderings bevestig weer eens die erns van die groei- en fiskale risiko’s wat die ekonomie in die gesig staar. Dit plaas ook ’n groter klem op die regte fiskale mengsel in die hoofbegroting van Februarie 2021.”

Prof Parsons sê wat weer eens uit baie van die agentskappe se jongste ontleding na vore kom, is dat hoewel dit die belangrikheid van die nuwe ekonomiese heropbou- en herstelplan (ERRP) en die onlangse Mediumtermynbegroting-Beleidsverklaring (MTBBV) beklemtoon, daar ’n “geloofwaardigheidsgaping” is ten opsigte daarvan of hierdie beleide en projekte toereikend geïmplementeer gaan word.

“Implementeringsrisiko’s is aan die toeneem. ’n Gebrek aan vertroue bestaan oor die moontlikheid dat die moeilike besluite, soos die beperking van die lastige staatsloonrekening, inderdaad gemaak sal word om te help om Suid-Afrika se staatsfinansies te stabiliseer.”

Prof Parsons sê die sterk boodskap van die jongste evaluerings van die agentskappe is dus dat vir Suid-Afrika om sy ekonomiese huis in orde te kry, vertroue in sy vermoë om op die groei- en fiskale front sy besluite en beloftes gestand te doen, dringend aandag moet ontvang.

“Hoe gouer ’n sterk sin vir ’n ekonomiese rigting gekonsolideer kan word terwyl ’n koers vir hernude groei- en fiskale volhoubaarheid opgestel word, hoe beter is die vooruitsigte dat beleggersvertroue herstel kan word, arbeidsryke groei daargestel kan word, en ’n beleggingsgraadstatus uiteindelik weer verkry kan word.”

 

Submitted on Mon, 11/23/2020 - 10:55