NWU-navorser help om nuwe data oor die Aarde en die Melkweg bloot te lê

’n Nuwe studie het die sluier oor ’n paar van die geheimenisse van die Melkweg gelig. Daar is bevind dat die Aarde vinniger as vroeër beweeg, en dat dit amper 2 000 ligjaar nader aan die gravitasiekolk in die middel van die Melkwegsterrestelsel is.

Dit is volgens nuwe data wat oor ’n tydperk van 15 jaar deur die Japannese radio-astronomieprojek, VLBI- (baie lang basisinterferometrie) verkenning van radio-astrometrie (VERA), gedokumenteer is.

’n Akademikus van die Noordwes-Universiteit, prof James Chibueze, is die enigste navorser uit Afrika wat ’n bydrae tot hierdie spesifieke VERA-bevinding gelewer het.
Prof Chibueze, sedert 2019 ’n mede-professor aan die NWU se Sentrum vir Ruimtenavorsing, is ’n geesdriftige bevorderaar van radio-astronomie en astrofisika.

Hy bepleit samewerking tussen die NWU en die Suid-Afrikaanse Radio-astronomie Sterrewag, ’n fasiliteit van die Nasionale Navorsingstigting. Prof Chibueze was voorheen ’n opdraggewende wetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Radio-astronomie Sterrewag in Kaapstad.

Hy sê dat sy belangrikste bydrae die meting was van die parallaksafstande (die skynbare verskil in die posisie of afstand van ’n voorwerp wanneer dit vanuit verskillende posisies beskou word) na ’n aantal stervormende streke en Mira-klas- pulserende sterre in die Melkweg.

“My navorsing het op die meting van die beweging (kinematiek) en dinamiek van die Melkweg gefokus waarvan die vernaamste bestanddeel die akkurate meting van die afstande en eiesoortige beweging van astronomiese bronne is.”

Prof Chibueze het al in 2009 met sy navorsing begin – wat steeds voortgaan – toe hy met sy doktorale navorsing by die Kagoshima Universiteit in Japan begin het. Hy dieselfde jaar met VERA begin saamwerk.

Hy is passievol oor sy navorsing. “Ek is opgewonde dat ons deur hierdie navorsing in staat sal wees om ’n kykie te kry oor hoe ons sterrestelsel, die Melkweg, lyk en hoe naby ons aan die middelpunt daarvan is.”

Hy sê dat dit moeilik is om die aard van ’n huis ten volle te verstaan as ’n mens in net een kamer van die huis geplaas word. “Ons woon in die Melkweg en ons kan baie maklik die aard van ander sterrestelsels buite ons s’n bestudeer en verstaan, maar dit is moeiliker om ons eie sterrestelsel van die binnekant af te bestudeer.”

Sy volgende stap is om nog meer voorwerpe waar te neem, veral dié wat naby aan die sentrale supergroot gravitasiekolk is, en om die struktuur en beweging van die sterrestelsel beter te omskryf.

Enigste verteenwoordiger uit Afrika

Prof Chibueze sê hy is die enigste navorser uit Afrika wat ’n bydrae tot hierdie spesifieke studie gelewer het. Hy beskou dit as ’n voorreg om deel daarvan te wees.
“Afrika het ’n groot potensiaal en geweldige talent. Ek verwelkom hierdie geleentheid om te demonstreer dat mense uit Afrika enigiets kan bereik.”

Hy sê dat hoewel daar moontlik baie negatiewe persepsies oor die vasteland kan wees, en veroorsaak dat sommige mense sekere ondernemings as onmoontlik beskou, dit net in hulle gedagtes bestaan. “Niks is onmoontlik as dit in die hart is nie – om Sri Chinmoy aan te haal. As ons dus in die hart bly, sal daar geen einde aan ons vooruitgang wees nie. Daarom soek ek na elke geleentheid om mede-Afrikane en studente te wys dat al wat ons nodig het, is om met ons navorsingspogings in die hart te bly.”

Op ’n soektog om die geheimenisse van die heelal te ontrafel

Prof Chibueze sê dat daar steeds talle onbeantwoorde vrae in astronomie en astrofisika is.

“Gelukkig het die Suid-Afrikaanse regering goed belê in die MeerKAT-teleskoop in die Karoo, wat ’n voorloper is van die Square Kilometre Array (SKA) waarvan Suid-Afrika die mede-aanbieder is.”

Hy sê dat die MeerKAT die beste instrument ter wêreld is wat teen sy spesifieke golflengtes werk. “Ek sal in die toekoms hierdie moderne gerief gebruik om nog raaisels van ons heelal te ontrafel. Ek sal natuurlik voortgaan om ook met kollegas op ander vastelande saam te werk.”

Maar wat beteken dit alles vir ons gewone sterflinge?

Prof Chibueze sê dat mense van nature nuuskierig is. “Ons wil ons omgewing, ons planeet, ons sonnestelsel, asook sy gasheer-sterrestelsel en ons heelal verstaan. Elke stukkie van die legkaart in ons begrip van die Melkweg is belangrik. Ons nuwe ontdekking is noodsaaklik, aangesien dit die gapings in die begrip van ons tuissterrestelsel oorbrug.”

Sy mantra is dat om sukses vol te hou dubbeld so belangrik is as om dit te bereik. “Met die ondersteuning van die NWU sal ek my uiterste bes doen om voort te gaan om sukses in navorsing vol te hou.”

Prof Chibueze
Prof James Chibueze

VERA
Bygewerkte inligting toon dat ons sonnestelsel 258 000 ligjaar vanaf die Melkwegsterrestelsel is en dat sy rotasiesnelheid 227 km/s is.

Lees VERA se volledige persvrystelling.

Submitted on Fri, 11/27/2020 - 12:31