Daar was oor die afgelope vyf maande talle verhale in die media oor slagoffers wat deur hulle lewensmaats getreiter, aangeval en selfs vermoor is. Volgens Statistieke SA is die voorkoms van geslagsgebaseerde geweld (GBV) in Suid-Afrika vyf keer hoër as die wêreldwye gemiddelde.
Prof Hayley Walker-Williams, die adjunkdirekteur van die Skool vir Psigososiale Gesondheid aan die Noordwes-Universiteit (NWU), verskaf insig oor waarom GBV-slagoffers dit moeilik vind om hierdie verhoudings te verlaat en wat gedoen kan word om hulle te help.
Prof Hayley verduidelik dat GBV fisiek, seksueel, emosioneel en finansieel kan wees, en dat dit deur lewensmaats, kennisse, vreemdelinge en instellings gepleeg kan word. Mans sowel as vroue kan slagoffers wees, maar in die meeste gevalle word GBV deur mans teenoor vroue gepleeg. Die man wat die geweld pleeg, is dikwels aan die vrou bekend, byvoorbeeld ’n lewensmaat of familielid.
Waarom bly slagoffers in gewelddadige verhoudings?
Prof Hayley sê dat dit goed gedokumenteer is dat die meeste vroue ’n gewelddadige verhouding vier tot sewe keer met wisselende grade van permanensie verlaat voordat hulle finaal uit die oortreder se beheer kan loskom. Die vrees vir die daad van verlating is dikwels baie groter as die vrees om te bly.
Die rede hiervoor is dat die slagoffers vrees dat hulle die aanvaller verder sal uittart, wat daartoe kan lei dat hulle en hulle kinders daaronder sal ly. As iemand sosiaal, geografies, fisies en finansieel geïsoleer is en geen toegang tot hulpbronne het wat hulle in staat kan stel om onafhanklik van die oortreder te funksioneer nie, is daar nog verdere redes vir slagoffers om nie pad te gee nie.
Aangesien GBV met geheimhouding en stigma gepaard gaan, keer die vrees om in die skande te kom of gestigmatiseer te word omdat hulle die persoon verlaat die slagoffers ook om iets aan die saak te doen. Indien die slagoffer voorts in ’n gewelddadige huis grootgeword het, beïnvloed die geweldsiklus ook die geloof in hulleself en hulle eiewaarde.
Prof Hayley voeg by dat godsdienstige of kulturele waardes ook ’n rol speel in die feit dat slagoffers nie gewelddadige verhoudings verlaat nie, aangesien sommige gelowe en kulture skeiding, egskeiding of opstand teen die patriargale leierskap in die gesin verbied.
Die literatuur rapporteer ook dat vroue hulle geloof in die polisiediens of regstelsel verloor het, en kan ervaar dat daar niemand is wat hulle of hulle kinders kan beskerm nie.
Wat kan gedoen word?
GBV het ’n vernietigende langtermyneffek op bykans elke aspek van die slagoffer se lewe. Slagoffers ervaar dikwels probleme met geestesgesondheid, inter- en intrapersoonlike en seksuele verhoudings.
Die kritieke uitgangspunt moet ’n fokus wees op die herstel van die slagoffer en die neutralisering van die vernietigende langtermynimpak op die slagoffer se vermoë om ’n normale lewe te voer. Slagoffers kan gehelp word as hulle ’n regsbenadering gebied word wat bemagtigend, medelydend en responsief ten opsigte van hulle behoeftes is. Dit kan gedoen word deur hulpbronne te mobiliseer en beskermende gemeenskapshulpbronne te versterk.
Die wêreld kan ’n eensame, geïsoleerde en vreesaanjaende plek vir die slagoffers van GBV wees. Familie en vriende moet vir slagoffers ondersteuning bied en verseker dat hulle die slagoffer se gevoelens valideer.
Prof Hayley sê dat slagoffers wat langtermynmishandeling ervaar, ’n veiligheidsplan moet skep wat hulle kan voorberei om die verhouding op ’n veilige manier te verlaat. Daar moet ondersteuning en hulpbronne aan slagoffers gebied word. Familie en vriende kan hulle help om ’n maatskaplike werker, sielkundige, mediese dokter, prokureur, of selfs hulle mensehulpbronnebeampte by die werk te nader. Moedig hulle aan om by plaaslike traumaklinieke by primêregesondheidsorggeriewe, beradingsdienste soos LifeLine, of niewinsgewende organisasies soos People Opposing Women Abuse (POWA) aan te klop.
Indien die slagoffers van GBV die nodige ondersteuning ontvang, sal dit vir hulle makliker wees om hierdie lewensbedreigende verhoudings te verlaat.
Prof Hayley Walker-Williams