16 Dae van Aktivisme: GBV behoort iets van die verlede te wees

Ons as Suid-Afrikaners het vanaf 25 November tot 10 Desember hande gevat met die res van die wêreld om aan die Verenigde Nasies se veldtog van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders deel te neem. Die veldtog, wat jaarliks gehou word, het op die Internasionale Dag van Geen Geweld teen Vroue begin en sal op Internasionale Menseregtedag eindig.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is trots op sy verbintenis om ’n bydrae te lewer sodat daar ’n einde aan geslagsgebaseerde geweld (GBV) gemaak kan word. Deur ons ondersteuningsdiens soos NWU Welstand en entiteite soos die NWU Regskliniek hoop ons om ’n toekoms te help skep waar GBV beduidend minder gaan voorkom.

Enigiemand, ongeag ouderdom, ras, seksuele oriëntasie of opvoedkundige agtergrond, kan enige vorm van geslagsgebaseerde geweld ervaar. Individue wat geweld ervaar, kan emosionele, geestes-, fisieke en seksuele gesondheidsprobleme ervaar. NWU Welstand het daarom in 2022 ’n reeks GBV-webinaarsessies gereël. Hierdie sessies het daarop gefokus om die oorsake van GBV, asook die impak daarvan, te verstaan. Hulle het voorts gedien om gesonde gedrag te bevorder wat geslagsgebaseerde geweld kan voorkom en bestuur.

Die NWU Raad het in 2021 ’n omvattende en inklusiewe GBV-voorkomingsbeleid aanvaar wat met die universiteit se sorgsaamheidsetiek ooreenstem. Die doel van die beleid is om die hantering van GBV binne die universiteit te reguleer, om ’n bemagtigende omgewing te skep om slagoffers in te lig en te ondersteun en GBV binne die NWU te moniteer, om die veiligheid van alle werknemers en studente te bevorder, en om alle gevalle van GBV te voorkom. Hierdie beleid kyk ook na alle vorms van GBV en erken dat GBV nie net vroue raak nie, maar wel mense van alle genders.

Die NWU het ook ’n standaardbedryfsprosedure aanvaar met die oog op die verskaffing van ondersteuning aan slagoffers van GBV.

Deur saam te werk – en te erken dat GBV ’n probleem is wat endemies aan ons samelewing is – kan ons ’n verskil maak aan die vele lewens wat deur GBV geraak word. Ons kan altyd meer doen, en dit begin alles hier.

Submitted on Wed, 12/07/2022 - 14:54