NWU-navorsing kyk na die ervaring van werkloosheid

Drie PhD-studente van die Optentia-Navorsingsfokusarea op die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs rolspelers uit die gemeenskap genooi om saam met hulle om die konferensietafel te sit om die uiters tersaaklike probleem van werkloosheid te bespreek.  

Melinda du Toit, Leoni van der Vaart en Rachele Paver het elkeen die geleentheid gehad om rolspelers op ’n kort reis deur hulle onderskeie dele van die studie te neem. Hierdie ondersoek kyk na die ervarings van werklose Suid-Afrikaners, elemente wat daartoe bydra en moontlike tussenkomste wat die probleem kan oplos.

Die rolspelers sluit gemeenskapsleiers, verteenwoordigers uit plaaslike en provinsiale regerings, akademici en klein besighede in. Hierdie rolspelers vorm die Werkloosheidsadviesraad wat ’n noodsaaklike deel van die navorsingspoging is, aangesien dit lede uit die gemeenskap verenig en help om hulle insigte oor die kwessie van werkloosheid te verkry.  

   
Melinda du Toit   Leoni van der Vaart   Rachelle Paver

Melinda du Toit, Leoni van der Vaart en Rachelle Paver deel hulle bevindings tot dusver met die afgevaardigdes

Hulle studiepromotors van die Katholieke Universiteit Leuven in België, prof Hans de Witte en prof Anje van den Broeck, het ook die geleentheid bygewoon. Aangesien die studie deel is van die gesamentlike PhD tussen KU Leuven en die NWU, het hulle medepromotor, prof Ian Rothman van Optentia, ook die geleentheid bygewoon om hulle aanbiedings oor die vordering van die projek te kontroleer.

Melinda is die kwalitatiewe navorser in die projek, terwyl Leoni die bestaande literatuur en die kwantitatiewe deel van die navorsing hanteer. Rachele ondersoek die skep van ’n nuwe tussenkoms om die huidige situasie reg te stel, of die aanpassing van ’n bestaande tussenkoms om die een of ander program te verskaf wat tot ’n oplossing kan lei, die probleem kan beperk, of ten minste die werkloses kan bevoordeel.

Die drie studente sal na verwagting hulle voltooide studies aan die einde van die jaar inhandig.

 

Submitted on Tue, 03/14/2017 - 12:14