Stimulering van kundige dialoog oor ons grense heen

Die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) het op 11 Augustus met trots sy eerste formele uitreik-inisiatief vir Afrika in Gaborone, Botswana bekendgestel. Sowat 80 afgevaardigdes van die Botswana-regering, die formele sakesektor en personeel van verskeie universiteite het hierdie luisterryke gebeurtenis bygewoon. Die eerste alumni-afdeling van die Besigheidskool is ook formeel tydens die funksie gestig.

Die hoof en visekanselier van die NWU, dr Mzubanzi Bismark Tyobeka, wat ook die geleentheid bygewoon het, het die Minister van Grond- en Watersake van die Republiek van Botswana, dr Kefentse C Mzwinila, verwelkom. Dr Kefentse het onlangs ’n alumnus van die NWU Besigheidskool geword toe hy in Mei 2022 sy PhD verwerf het.  

Die NWU Besigheidskool het ’n internasionalisasie-/Afrikaniseringstrategie wat verband hou met die VN se Agenda 2030 Volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte en die AU Agenda 2063 Strategieë. Die doel van hierdie strategie is om samewerkende netwerke te vorm om nie net unieke oplossings vir gespesialiseerde onderrig vir uitvoerende beamptes te verskaf nie, maar ook om volhoubare oplossings of idees te vind wat sosio-ekonomiese groei binne Afrika moontlik maak.

Prof Yvonne du Plessis, bestuurder van Afrikanisering by die NWU Besigheidskool, sê hulle instelling het al jare lank akademiese skakels met hulle buurland, Botswana.  “Ons het sedert 2021 besluit om op ons vasteland te fokus – veral om die denke van uitvoerende beamptes in Afrika te vorm, soos dit deur ons logo met die Afrika-tema uitgebeeld word. Die beste land waarin ons met ons Afrika-uitreik kan begin, is dus Botswana. Die doel van hierdie Afrika-uitreik is om samewerking te verkry met sakekundiges, akademici, alumni en hoogwaardigheidsbekleërs oor een van die belangrikste doelwitte vir volhoubare ontwikkeling in die wêreld, en des te meer in Afrika – om te verseker dat daar teen die jaar 2030 skoon en stabiele watervoorsiening en doeltreffende watersanitasie vir alle mense is. Hierdie doel sluit volhoubare waterbestuur in, wat by hierdie geleentheid bespreek is,” sê prof Du Plessis.

Hierdie netwerkgeleentheid het uitvoerende denkers byeengebring om ’n dialoog te begin wat van kernbelang is vir Noordwes in Suid-Afrika en Botswana, naamlik volhoubare waterbestuur wat veral met gesondheid, landbou en mynbou verband hou. “Daar is meer as 14,1 miljoen mense in Suid-Afrika wat nie toegang tot skoon lopende water het nie. Meer as 50% van die vleilande in Suid-Afrika is verlore. Daar word ’n astronomiese R33 miljard oor die volgende drie jaar benodig om watersekuriteit en -volhoubaarheid te verseker. Dit is skokkende syfers en feite. Ons moet dus met mekaar praat sodat ons meer geleenthede kan ondersoek en oplossings kry om die geweldige risiko’s wat ons ervaar, te verlig. Netwerking kan ook daartoe lei dat onderling voordelige doelwitte in besigheid, akademiese navorsing, en opleiding en ontwikkeling vir mense – om maar net ’n paar te noem – bereik kan word. Water is alles: water is lewe. Deur water volhoubaar te bestuur, verseker ons ’n beter lewe vir almal in Afrika,” sê dr Tyobeka.

Minister Mzwinila sê dat dit die rol en verantwoordelikheid van die regering is om seker te maak dat hulle volhoubare planne ontwikkel om te verseker dat alle burgers toegang tot water en sanitasie het. “Om dit te verseker, het ons ’n behoorlike en doeltreffende regeringstruktuur en ’n goed nagevorste waterbestuursplan nodig. Ons bevolking groei, en dus neem die behoefte aan water toe. Grondwater, klimaatsverandering, damvlakke, reënval en vermorsing is alles elemente wat ’n groot rol in die vermindering van waterbronne speel. Ons moet iets daaraan doen – en vinnig.  Ons moet weet hoe en wanneer om planne te implementeer. Ek is dankbaar om te sê dat ons inderdaad regoor ons land verskillende strategieë en oplossings in plek het om ons waterbehoeftes te hanteer,” sê minister Mzwinila.

Die mynbou-, toerisme- en landbousektore is almal sektore wat die meeste inkomste en werksgeleenthede vir Botswana skep. “Elkeen van die sektore benodig baie water. Hierdie sektore is deurlopend besig om planne te beraam en tegnologie en ingenieurswese aan te wend om volhoubare oplossings te kry om watervoorsiening te verseker.     

Die geleentheid het afgesluit met ’n paneelbespreking waar die NWU Besigheidskool se dr Piet Croucamp die gasheer was, asook ’n vraag-en-antwoord-sessie, en ’n formele middagete waar almal die geleentheid gehad het om met mekaar te gesels en netwerke te vorm.  

“Ek salueer die NWU Besigheidskool dat hulle die geleentheid aangegryp het om ’n inisiatief te skep waar brandende kwessies met ons bure in Botswana bespreek kon word,” het dr Tyobeka afgesluit.

Klik asseblief hier om 'n video van die geleentheid te kyk.

....

Prof Yvonne du Plessis (NWU Besigheidskool), Nkosinathi Tom (NWU), dr Bismark Tyobeka (NWU se hoof en visekanselier), dr Kefentse C Mzwinila (Minister van Grond- en Watersake van die Republiek van Botswana), Clement Manoko (NWU) en Marli Moolman (NWU Besigheidskool).

Submitted on Mon, 08/15/2022 - 14:37