Skielik kán hulle – studente ervaar sukses ná harde werk

Daar was die afgelope paar jaar nie naastenby genoeg skoolverlaters wat aan die minimum vereistes vir toelating tot tersiêre studiegebiede soos Ingenieurswese, Natuurwetenskappe, Ekonomiese Wetenskappe en Gesondheidswetenskappe voldoen het nie. Só sê Elza Hattingh van die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Ingenieurswese wat aan die hoof staan van die fakulteit se Xcel-program – ’n inisiatief wat aan studente ’n tweede kans bied om hulle vorige graad 12 Senior Sertifikaat-eksamenuitslae in Wiskunde en Fisiese Wetenskap te verbeter.

Hattingh het in 2016 die eerste 12 studente verwelkom wat aanvullende onderrig wou hê met die oog op die verbetering van hulle matriekuitslae teen die einde van die jaar sodat hulle ’n beter kans kan staan om toelating tot ’n universiteit te kry. Vandag het talle studente al die vrugte daarvan gepluk, met sommige studente wat reeds gegradueer het en tans in die bedryf werk of hulle studies voortsit.

Volgens die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) se Diagnostiese Verslag 1 van 2021, het slegs 35,6% van die totale getal matrikulante wat vir Wiskunde in graad 12 ingeskryf was, uitslae van meer as 40% in die NNS se Wiskunde-eksamen in 2021 gekry. Dit beteken dat 64,4% van die matrikulante minder as 40% in Wiskunde behaal het. Hierdie groep skoolverlaters staan geen kans om ’n loopbaan in die wetenskappe te oorweeg nie.

“Die redes vir hierdie studente se swak skooluitslae in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe wissel van onvoldoende onderrig op skoolvlak tot moeilike huislike omstandighede, te veel aandag aan sport, siekte of ’n gebrek aan akademiese toewyding tydens graad 12. ’n Selfs groter bekommernis is die klein persentasie matrikulante wat aan die nodige vereistes voldoen om by die Ingenieurswese-program in te skakel. Slegs 3,8% van die matrieks wat Wiskunde geskryf het en slegs 4,4% van dié wat Fisiese Wetenskappe geskryf het, voldoen byvoorbeeld aan die vereistes vir die Ingenieurswese-program,” sê Hattingh.

Ná sewe jaar het die Xcel-program bewys dat dit ’n wegholsukses is en boverwagte resultate is bereik. Die NSS- akademiese uitslae van 2020 tot 2022 was soos volg:

...

“Ons het ’n streng keuringsproses vir diegene wat vir die Xcel-program wil inskryf, aangesien ons seker wil wees dat die gekose studente werklik ernstig is om hulle vorige uitslae te verbeter. Ons maak ook seker dat hulle doelwitte realisties is en beklemtoon die erns van die program en die harde werk wat dit vereis,” sê Hattingh.

In 2020 was 46 studente aktief by die Xcel-program betrokke. Nie minder nie as 65% van hierdie studente (30 studente) is vir die programme in Ingenieurswese by die NWU aanvaar, en 30% (14 studente) is vir BSc-programme by die NWU aanvaar. Twee studente is vir Farmasie aanvaar en een vir Regte. ’n Totaal van 26 onderskeidings is behaal.

In 2021 het 32 studente vir die Xcel-program ingeskryf. Van hulle is 81% (26 studente) deur die Fakulteit Ingenieurswese aanvaar, en 19% (ses studente) deur die Fakulteit Natuurwetenskappe. Slegs twee studente in die Xcel-groep het nie aan die minimum vereistes voldoen om Ingenieurswese te studeer nie.

“Hier moet die studente besluit hoe hard hulle bereid is om te werk om toelating tot ’n professionele kwalifikasie te kry. Ons het die regte dosente vir hierdie wonderlike taak gekies, en ek kan eerlik sê dat hulle ’n fenomenale werk doen. Hulle maak seker dat die studente na die beste van hulle vermoë presteer,” sê sy.

Hoewel die program by die NWU aangebied word, word die graad 12- nasionale proefeksamen en die finale graad 12 Senior Sertifikaateksamen onder leiding van die Departement van Basiese Onderwys by ’n naburige skool geskryf.

“Dit is so lekker om werk toe te gaan en te weet dat jy iets vir iemand doen wat hulle sal help om hulle lewens om te keer. Dit is baie vervullend! Om te sien dat leerders met beperkte universiteitstoelating ná ’n paar jaar met ’n hoëvlak- akademiese kwalifikasie hier uitstap, is ’n absolute voorreg,” sluit Hattingh af.

Om meer oor die Xcel-program uit te vind, besoek asseblief

Xcel-inligting:                https://engineering.nwu.ac.za/engineering/xcel-programme

Video:                          https://www.facebook.com/watch/?v=178888907719925  

Die vereistes om vir die Xcel-program oorweeg te word, is die volgende:

  • Ten minste 40% vir Wiskunde en Fisiese Wetenskappe in graad 11 en 12
  • Moes matriek met universiteitstoelating geslaag het
  • Moes ten minste 60% vir hulle taal van studie (Afrikaans/Engels) behaal het om vir die vakke AGLE 111 en AGLE 121 in te skryf
  • Nie ouer wees as 22 jaar nie
  • Nie die NNS meer as drie jaar vantevore geskryf het nie

Submitted on Tue, 08/23/2022 - 09:37