NWU stel vernuwende literatuurprojek vir visueelgestremde persone bekend

Die vakgroep Skryfkuns van die Noordwes-Universiteit (NWU) het saam met die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester ʼn Byderhandprojek aangepak. Dié projek is op 30 Augustus 2018 luisterryk bekendgestel met die opening van die multisensoriese tuin by die Pionierskool.

Byderhand, ʼn interdissiplinêre kreatiewe en navorsingprojek, bied interaktiewe leeservarings waardeur plek en literatuur op 'n nuwe manier ervaar kan word. Die Byderhandspan het reeds verskeie ander projekte onderneem. Met die projek by die Pionierskool het die span egter spesifiek navorsing gedoen om te verseker dat die projek toeganklik is vir visueelgestremde persone.

Die projek in Worcester bestaan uit drie dele, naamlik Pionierstories, Tuinverse en Karootuinverse. Skrywers en kunstenaars in die projek sluit bekende digters, asook leerders, oudleerders en personeel van die Pionierskool in.

Om die projek toeganklik te maak vir visueel gestremde sowel as siende persone, word ʼn kombinasie van media gebruik. Die konkrete en digitale koppelvlakke bestaan uit braille-instruksies, bordjies met QR-kodes en ʼn digitale koppelvlak waarin van spraaktegnologie gebruik gemaak word. Die koppelvlakontwerpe is die werk van Gustaf Tempelhoff, ʼn multimedia-ontwerper wat sy meestersgraadstudie in grafiese ontwerp as deel van die projek doen.

Braille en grootskrif is gebruik vir die inligtingbordjies wat die tuinverse en plante aandui. Die klippepad is spesiaal gelê om by die versie “Klippepad” te pas.

Al die stories en gedigte is opgeneem en kan via slimfone of tablette ervaar word. Dit is hierdie ouditiewe komponent wat die Byderhandprojek so toeganklik maak vir visueel gestremdes, soos dit ook duidelik blyk uit die entoesiastiese ontvangs van die projek.

Die multisensoriese tuin op die skoolterrein is deur die Pionierskool en Hoërskool Brackenfell ontwikkel as deel van die ATKV se Handevatprojek, en afgerond in samewerking met die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin, Afrikaans.com en Byderhand.

Die tuin bied aan leerders ʼn besondere multisensoriese ervaring: die plante in die tuin is gekies met die fokus op reuk en tas; die paadjies is uitgelê met verskillende teksture; buitelug-musiekinstrumente van herwonne materiaal nooi die leerders uit om saam te speel en musiek te maak, en ʼn muurskildery deur Afrikaans.com, met idiome wat met klank te doen het, rond die tuin af.

Byderhand se bydrae tot die multisensoriese tuin is 10 tuinverse en kinderverse deur William Rowland, Hans du Plessis, Bernard Odendaal, Daniel Hugo, Floris A Brown en Franci Greyling. Van die verse word aangevul deur musiekverwerkings, vertalings en tipografiese animasies sodat die leerders werk op ʼn verskeidenheid maniere kan ervaar.

Dr William Rowland, wat jare lank uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Raad vir Blindes en president van die Wêreldraad vir Blindes was, het die multisensoriese tuin geopen. Sy gedig “Die huis waar ek woon” is die kerngedig van die projek. Dr Rowland het groot lof vir die vindingrykheid en vernuwende aard van die Byderhandprojek. “Sover ek weet is dit ’n wêreld-eerste. Die verbintenis van poësie met ’n tuin, plante en bome, die storievertelprojek, die tegnologie wat toegepas word in die projek - ek is nie bewus van ’n soortgelyke projek nie.”

 Die multisensoriese tuin by die Pionierskool vir Siggestremdes bied ʼn verrykende ervaring vir die leerders en besoekers aan die skool. Die Byderhand Tuinverse vorm deel van die tuin.

Die tweede gedeelte van die projek, Pionierstories, is geskryf en vertel deur leerders, oudleerders en personeel van die Pionierskool sowel as visueelgestremde persone van die Worcestergemeenskap. Hierdie stories kan ervaar word in Blindiana Barista, ʼn koffiewinkel, by Innovation for the Blind in Worcester. Skrywers in dié projek het ʼn gesellige bekendstellings­geleentheid in Blindiana Barista bygewoon. Joseph Matheatau, die koffiewinkel se blinde barista, se vertelling is deel van die storieversameling. Die Pionierstories is ook op die skoolterrein aangebring by die plekke waar die verhale afspeel; sodoende bied dit aan die leerders ʼn plekspesifieke en konkrete ervaring.  

 Quinten Pendle en Gustaf Tempelhoff luister saam na Quinten se storie.

 Rouxne van der Westhuizen skandeer een van ʼn QR-kodes wat op die skoolterrein aangebring is.

ʼn Derde gedeelte van die projek in Worcester word samewerking met die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin onderneem. Digters met ʼn verbintenis met Worcester en die Breëriviervallei is genooi om gedigte oor die omgewing te skryf. Hierdie gedigte word deel van die nuwe brailleroete wat tans in die tuin ontwikkel word. Die gedigte deur 10 skrywers waar onder Diana Ferrus, William Rowland, Daniel Hugo en David Kramer is onder andere vertaal in Engels, Portugees en Duits. Hierdie projek is tydens ʼn skemerkelk-geleentheid in die botaniese tuin bekendgestel waartydens gaste na die gedigte soos voorgelees deur die digters, geluister het. Die gaste was dit eens dat die kombinasie van karoolandskap en die gedigte ʼn besondere ervaring vir besoekers aan die tuin sal bied.

Hierdie uitdagende projek was en is steeds vir die Byderhandspan ʼn besondere verrykende ervaring en die projek sal deel bly van die vakgroep Skryfkuns se voortgesette navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid.

Byderhand word onderneem binne die Navorsingseenheid Tale en Literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Die projek is ʼn goeie voorbeeld van ʼn skeppende projek in die digitale humaniora (Digital Humanities).

Projekwebtuiste: www.byderhand.net

Kontak prof Franci Greyling by franci.greyling@nwu.ac.za vir meer inligting.

*Foto’s geneem deur prof Franci Greyling.

Submitted on Tue, 09/11/2018 - 16:09