NWU skenk rekenaars en boeke aan die JB Marks-gemeenskapsbiblioteke

Plaaslike biblioteke het dikwels nie die middele om broodnodige rekenaars en boeke op ’n gereelde basis aan te skaf nie. Personeel van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Biblioteek- en Inligtingsdienste (BID) in Potchefstroom het hierdie behoefte raakgesien en met ’n ruimhartige skenking na die JB Marks-gemeenskapsbiblioteke uitgereik.

Louise Vos, BID se senior bestuurder, sê dat die donasie van 15 Augustus uit 10 rekenaars en amper 800 boeke bestaan.

“Hierdie uitreik-gebaar vorm deel van die maatskaplike verantwoordelikheid en gemeenskapsbetrokkenheidsaktiwiteite van die NWU.” Volgens Louise het die BID-program bewus geraak van die JB Marks-biblioteke se behoefte aan rekenaars en boeke.

Die BID-bestuurders vir Inligtingsbronne en Biblioteekstelsels, Ntobeko Sikhakhane en Cecil Gasa, het die rol van inligtinggeletterdheid en inligtingstegnologie in die moderne lewe van landsburgers beklemtoon.

Louise Markram, die assistent-stadsbibliokaris, sê namens die gemeenskapsbiblioteke dat die skenking hulle sal help om ’n beter diens aan die gemeenskap te lewer.  

“Dit sal help om ’n magdom kennis te skep en ’n leeskultuur aan te moedig.” Zippora Vavane, waarnemende direkteur vir Munisipale Dienste en Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling, verwelkom die skenking en sê dat die biblioteke die afgelope twee tot drie jaar geen nuwe boeke kon aankoop nie.

Raadslid Merna Meyer, LBK vir Sport, Kuns en Kultuur, sê die skenking was burgerskap en verantwoordelikheid in aksie.

....

Personeel van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Biblioteek- en Inligtingsdienste (BID) het die skunking aan verteenwoordigers van JB Marks-gemeenskapsbiblioteke oorhandig. Raadslid K de Villiers, raadslid Merna Meyer, Louise Markram,  Anna von Benecke, Lynnette Venter, Zippora Vavane, Cecil Gasa, Louise Vos en Ntobeko Sikhakhane was teenwoordig tydens die oorhandiging.

Submitted on Wed, 08/17/2022 - 12:13