Nasionale begroting laat geen ruimte vir foute – Ettienne le Roux

Die nasionale begroting wat op 22 Februarie aangekondig is, is beslis ‘n ‘tawwe’ een wat in moeilike omstandighede opgestel moes word.” Dít is die mening van mnr Ettienne le Roux, hoofekonoom van Rand Aksepbank wat verlede week minister van finansies, Pravin Gordhan, se pasgelewerde begrotingstoespraak geïnterpreteer het by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus (NWU Vaal) se jaarlikse alumni-ontbyt.

Le Roux is ‘n alumnus van die en het die grade BCom, BComHons en MCom Ekonomie by die Vanderbijlparkkampus behaal toe dit nog 'n satellietkampus van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys was. Hy het al sy grade met lof verwerf.

Meer oor die nasionale begroting
Suid-Afrika het tans ‘n R150 biljoen-begrotings tekort – dit is die bedrag waarmee die regering se uitgawes sy inkomste oorskry. Maniere moet dus gevind word om dié gaping te verklein om te voorkom dat Suid-Afrika se kredietwaardigheid verder val en in rommelstatus eindig.

Dit is ‘n neerdrukkende gedagte dat van die 55 miljoen Suid-Afrikaners, slegs sowat 14 miljoen geregistreerde belastingbetalers is, en van hulle is slegs 7,4 miljoen belastingpligtig. Die ander helfte van die geregistreerde belastingbetalers val buite die laagste belastingkategorie.

Dit beteken dat slegs 14% van die bevolking, saam met maatskappye en trusts, die las dra om die regering se uitgawes te dek.

In onlangse jare het Suid-Afrika se groeikoers konsekwent teleurgestel en dit lyk onwaarskynlik of daar binnekort ‘n sterk toename in ekonomiese aktiwiteit gaan wees. Na verwagting gaan 'n 2% groeikoers die norm wees. Met sulke swak groei het die  regering dus geen ander keuse as om belasting koerse te verhoog nie.

Le Roux sê dit is duidelik dat minister Gordhan met sy begroting ‘n goue middeweg probeer volg het deur die nodige addisionele inkomste te kry sonder om die meerderheid van die bevolking, waarvan ‘n groot deel baie arm is, te laat ly. Die gevolg is dat die nuwe belasting wysigings beslis nie vriendelik vir rykes is nie. Die marginale belastingkoers van welgestelde individue wat meer as R1,5 miljoen per jaar verdien, is van 41% tot 45% verhoog. Le Roux het daarop gewys dat slegs n geraamde 100 000 Suid-Afrikaners tans in dié welgestelde groep val.

Hoewel BTW van 14% vanjaar onveranderd gelaat is, het minister Gordhan duidelik die weg begin voorberei vir ‘n koers verhoging in komende  jare, sê Le Roux. En dit ten spite van die feit dat so n besluit politieke weerstand sal uitlok.

Suid-Afrika is besig omdie einde van sy fiskale buigsaamheid te bereik. Daar is min verdere beweegruimte. Die las op persoonlike inkomstebelasting is reeds baie  groot. Suid-Afrika se kredietwaardigheid is reeds benard. Ons ekonomie staan op ‘n fyn lyn en as dié oorgesteek word, gaan ons verder afgegradeer word. Hier is absoluut geen ruimte vir foute nie. As ons ekonomie nie bepaald vinniger groei in komende jare nie, is hier groot moeilikheid,” het Le Roux gewaarsku.

Ettienne le Roux – ‘n alumnus van top formaat
Le Roux was 'n ekonoom verbonde aan die Nasionale Tesourie nadat hy sy loopbaan afgeskop het as dosent in ekonomie by die NWU Vaal. Terwyl hy by die Tesourie gewerk het, het hy ook die geleentheid gehad om sy studies in die Verenigde State van Amerika voort te sit. Sy kennis van die ekonomie maak hom gesog. In Julie 2013 het mnr Trevor Manuel, in sy hoedanigheid as Minister in die Presidensie: Nasionale Beplanningskommissie, hom as lid van die Suid-Afrikaanse Statistiekraad benoem.

Sy loopbaan in die bankwese het by Eerste Nasionale Bank begin, waar hy 'n ekonoom was. Le Roux het van daar af by Rand Aksepbank (Rand Merchant Bank) aangesluit en later tot hoofekonoom gevorder. As 'n kundige op die gebied van valuta en betalingsbalans is sy vernaamste taak as hoofekonoom om die makro-ekonomiese omgewing te moniteer vir nuwe tendense in ekonomiese veranderlikes en beleid.

Gedurende sy tyd by Rand Aksepbank het hy verskeie prestasietoekennings ontvang, insluitende Beste Analis van die Jaar. Hy het ook vir twee jaar lank op die Junior Bestuursraad gedien.

Voor sy aanstelling as hoofekonoom was hy gesamentlike hoof van Rand Aksepbank se vaste-inkomste, kommoditeits- en valuta-navorsingspan. Hy is 'n gereelde gesig in die media en het al verskeie meningstukke en navorsingsartikels in nasionale koerante soos Business Day en Financial Mail gepubliseer.

Later van tyd het hy kursusse in Internasionale Handel en Nasionale Rekeningkunde aan New York Universiteit voltooi. Hy handhaaf steeds sterk bande met sy alma mater en bied per geleentheid gaslesings in Ekonomie aan by die NWU se Vanderbijlparkkampus. In 2014 is hy deur die NWU vereer deur ‘n Alumnus van die Jaar-toekenning.
 


Mnr Ettienne le Roux, hoofekonoom van Rand Aksepbank en alumnus van die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus (NWU Vaal), saam met prof Linda du Plessis, waarnemende rektor.

 

Submitted on Mon, 03/06/2017 - 14:57