’n Dekade van uitnemendheid – NWU se HART Navorsings- en Opleidingskliniek bereik ’n mylpaal

Die Hipertensie Navorsings- en Opleidingskliniek van die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) vier sy tiende verjaardag met ’n simposium waar toonaangewende internasionale en plaaslike kundiges oor hoëbloeddruknavorsing op die Potchefstroomkampus gaan bymekaarkom.

Die simposium, A decade of hypertension research: reflecting on the past to strengthen the future, vind op 19 en 20 September plaas.

Sprekers sluit die gerespekteerde en bekroonde navorsers prof Alta Schutte, hooftemaleier van hart-, vaskulêre en metaboliese medisyne aan die Universiteit van Nieu Suid-Wallis (UNSW), prof Martin Magnusson, medeprofessor, geneesheer en kardiovaskulêre navorser by die Wallenberg-sentrum vir Molekulêre Medisyne (WCMM), en prof Neil Poulter, professor in Voorkomende Kardiovaskulêre Medisyne en hoofondersoeker van die wêreldwye inisiatief Meimetingsmaand in.

Die doel van die simposium is om te besin oor wat oor die afgelope tien jaar ten opsigte van bydraende faktore in die vroeë ontwikkeling van hipertensie en kardiovaskulêre siekte geleer is. Die fokus verskuif dan na dit wat in die toekoms ten opsigte van bloeddrukbehandeling, -bestuur en -beheer geïmplementeer kan word – veral in Noordwes – om die huidige Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelselbeleide te help versterk en verbeter .

Dr Lisa Uys, wat deel is van die span wat by verskeie projekte in die Hipertensie Navorsings- en Opleidingskliniek betrokke is, sê hulle doelwit is om aktief in gemeenskappe te werk wat navorsing oor hipertensie betref.

“Ons wil graag ons kundigheid na ons gemeenskappe toe neem en ons kennis deel om doeltreffende hipertensiebestuur, -behandeling en -ondersteuning te bereik.”

Meer oor die NWU se Hipertensie Navorsings- en Opleidingskliniek

Die Hipertensie Navorsings- en Opleidingskliniek van die NWU is ’n sentrum van uitnemendheid in navorsing oor kardiovaskulêre siekte.

Die Mediese Navorsingsraad het die kliniek die eer aangedoen om in 2015 ’n buitemuurse navorsingseenheid vir hipertensie en kardiovaskulêre siekte van die Mediese Navorsingsraad (MNR) te word.

“Verskeie projekte van die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) het deur middel van baanbrekernavorsing ’n bydrae tot die bestaande korpus van kennis oor die ontwikkeling van kardiovaskulêre siekte in Afrika gelewer,” sê prof Ruan Kruger, huidige interim navorsingsleier van die NNS SARChI-navorsingsleerstoel oor die vroeë opsporing en voorkoming van kardiovaskulêre siekte in Afrika.

Hy sê HART het meer as 300 navorsingsartikels gelewer sedert die ontstaan van die kliniek in 2012 en het veelvuldige grootskaalse studies geïnisieer wat uniek is aan die Afrika-opset.

Die eenheid spog ook met goeie langdurige en betekenisvolle samewerkende netwerke regoor die wêreld. Dit is die trotse gasheer van talle akademiese personeellede wat gesogte nasionale en internasionale toekennings ontvang het.

Vir meer inligting oor HART en die navorsingskliniek en -geriewe, besoek: Home | health-sciences.nwu.ac.za, en vir meer oor die simposium, besoek: https://health-sciences.nwu.ac.za/hart/symposium.

Submitted on Fri, 09/09/2022 - 12:08