Niemand – nie eers Janneman Malan self nie – sal onder enige illusie wees dat sy Bradmanese gemiddelde in die eendagwedstryde vir die Proteas sal voortduur nie. Gewone sterflinge kan nie sulke prestasies volhou nie (tensy jy natuurlik sir Don Bradman is – hoewel die Aussie-legende nooit witbalkrieket gespeel het nie).
Hierdie 25-jarige voormalige sterkolwer van die Noordwes-Universiteit het in sy kort internasionale loopbaan, wat in sy geheel met die pandemie saamval, nou reeds nege eendagwedstryde (agt beurte) gespeel sedert hy verlede jaar sy debuut teen Ierland gemaak het. Die gevolg is dat daar drie honderdtalle en twee vyftigtalle of meer teen ’n gemiddelde van 104,50 en ’n kolftempo van 92,47 was. Sy jongste honderdtal was ’n fenomenale wenpoging teen Sri Lanka op Saterdag 4 September op die eilandnasie se tuisveld.
Malan se doelgerigte poging van 121 lopies van 135 aflewerings het aan hom die Man van die Westryd-toekenning besorg en dit het die Proteas in staat gestel om die reeks met een elk gelykop te maak.
Strawwer kompetisie en ’n groter fokus op sy spel deur die teenstanders se boulers en ontleders sal sy gemiddelde ongetwyfeld na ’n meer realistiese getal laat afneem. Dit gaan ’n baie interessante reis wees om dop te hou. So baie belowende jong sportmanne en ‑vroue slaag nie daarin om hulle prestasies op universiteitsvlak vol te hou wanneer hulle die professionele vlak betree nie.
Malan is egter nie een van hulle nie.