Melinda se navorsing het haar tot hier in die hartjie van die township gebring. Haar begeerte om aan die gemeenskap terug te gee en die soeke na ʼn gemeenskapsprojek vir die eerstejaars van die Ingenieurswese Fakulteit, het ʼn geleentheid geskep vir samewerking tussen die dissiplines van die Sielkunde en Ingenieurswese, onderskeidelik op die Vaal- en Potchefstroomkampusse van die NWU.
Enige betrokkenheid sou egter deur ʼn gemeenskapsleier gefasiliteer moes word. Iemand wat as ʼn leier geag word, wat die gemeenskap ken en reeds daarin betrokke is. Hierdie realiteit het Melinda reeds gesien toe sy begin het om data in te samel. Op die advies van die sosiale aktivis Dale T McKinley, het sy kontak gemaak met ene Bricks Mokolo.
Op die uitgetrapte rooigrondstrate van Orange Farm waar hopeloosheid en armoede gereeld donker skadukolle oor die lewens van die inwoners gooi, het Bricks en Gladys Mokolo ʼn helder lig kom aansteek: Die Itsoseng Gemeenskapsprojek. Bricks was eens ʼn kranige sokkerspeler met ʼn oog op ʼn plekkie in die nasionale span, maar hy moes kies tussen ʼn lewe van roem en rykdom en sy mense, wat hy in Orange Farm sou moes agterlaat. Vir hom was die keuse nie moeilik nie.
Saam werk hy en Gladys hard om ʼn sprankie hoop in die gemeenskap te bring. Met sy regsagtergrond bied hy gratis regsadvies aan die inwoners van Orange Farm. Die herwinningskantoor bied aan mense vergoeding in ruil vir ure en kilometers se plastiek-, metaal- en papierinsameling. Dit is ʼn karige inkomste, maar vir baie is dit hulle enigste inkomste. Gladys bedryf ook ʼn dagsorgsentrum op die perseel. Hier bly 95 maatjies elke dag terwyl hulle ouers ʼn lewe probeer maak. Gladys word nie altyd vir haar dienste betaal nie, tog wys sy nie ʼn kind weg as daar nie betaling kom nie. Sy reken sy stuur so ʼn kind terug na ʼn lewe van mishandeling en dit is nooit ʼn opsie nie.
“Who is going to big school next year?” Melinda du Toit by die graad R-klas van Gladys se skool.