Hou die ekonomiese bootjie vlot: waarom Suid-Afrika vroulike geoktrooieerde rekenmeesters nodig het

In tye van onrus en onsekerheid is kundigheid onontbeerlik. By die Noordwes-Universiteit (NWU) word potensiaal in kundigheid ontwikkel en gevorm tot ’n vaardigheid wat tot voordeel is van die samelewing wat deur die NWU bedien word. Daar is min gebiede wat hierdie situasie beter beskryf as dié van geoktrooieerde rekenmeesterskap.  In ’n land wat unieke uitdagings het, speel geoktrooieerde rekenmeesters (GR’e) ’n baie belangrike rol om welvarendheid te bevorder. Dit is ’n gebied wat deur diversiteit gekenmerk word en daar is vele geleenthede. Daar is nie ’n meer passievolle voorstander van hierdie kursus as professor Heleen Janse van Vuuren, direkteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe by die NWU se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe, nie.

“Suid-Afrika het ’n groot behoefte aan gekwalifiseerde rekenmeesters, en dit word deur die regering as ’n skaars vaardigheid gelys. GR’e is kundiges in handelsbedrywighede soos besigheidsreg, belasting, finansies, bestuursrekeningkunde en die strategiese bestuur van ’n onderneming. Hulle is nie slegs finansiële leiers nie, aangesien meer as ’n derde van die HUB’s van die topmaatskappye wat in Suid-Afrika genoteer is GR’e is,” sê Janse van Vuuren.

Hierdie behoefte aan GR’e is groot en die NWU doen sy bes om dit nie net te hanteer nie, maar om dit te verlig.

“Ons is trots daarop dat ons deurlopend onder die bestes in die nasionale eksamen van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) se Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (ITC) tel. Ons is gewoonlik onder die topdrie op die ranglys van die 23 geakkrediteerde universiteite in Suid-Afrika, en ons was gesamentlik eerste in Januarie 2022 se ITC vir kandidate wat die eksamen die eerste keer aflê. Ons volgehoue sukses is die bewys dat ons program vir geoktrooieerde rekenmeesterskap van die hoogste gehalte is. Ons het ook ’n span toegewyde dosente wat passievol is oor die beroep, ons studente en ons vermoë om ’n verskil in ons land te maak deur goed afgeronde GR’e van ’n topgehalte te lewer.”  

Met dié dat Augustus Vrouemaand is, voel Janse van Vuuren dat dit die ideale geleentheid is om die soeklig te laat val op die verskil wat vroue as GR’e kan maak. “Ek glo dat vroue unieke vaardighede het soos aanpasbaarheid, deursettingsvermoë, die vermoë om meervoudige take te verrig en om ware leiers te wees. Geoktrooieerde rekenmeesterskap, as loopbaankeuse, maak baie deure oop om wêreldleiers in die sakewêreld te word, en die unieke eienskappe van vroue maak hulle des te meer bekwaam om baie suksesvolle GR’e te wees. Vroulike GR’e moet mentors wees om ’n bewustheid vir die beroep te kweek sodat die getal vroulike GR’e vergroot kan word.”

Volgens Janse van Vuuren maak GR’e se analitiese en kritiese denkvermoëns hulle ideaal om ’n betekenisvolle rol te speel om Suid-Afrika se ekonomie te verbeter.  “GR’e word toegerus om kritieke data te ontleed, risiko’s te evalueer en te versag, en strategiese rigtings aan te dui om ons ekonomie te help groei, aangesien groei die enigste manier is om werk te skep en armoede te verlig.”  

Sy glo ook dat GR’e hulle kennis en vaardighede moet gebruik om vertroue in ons land se ekonomie te verhoog, asook om besighede te help om vlot te bly en om volhoubaar te wees.

“Ek het ’n passie vir jongmense en die beroep, en ek glo dat die enigste manier om ’n werklike verskil te maak deur uitmuntende opvoeding is. Geoktrooieerde rekenmeesterskap as studiegebied verg deursettingsvermoë, harde werk en toewyding, en dit neem ten minste sewe jaar om te kwalifiseer. Hierdie beroep vorm jou in ’n individu wat krities kan dink, en dit leer jou om jou kennis toe te pas om die wêreld, en so die lewens van almal wat hier woon, te verbeter.”

Dit is hierdie toegewyde benadering wat ’n blywende effek sal hê, aangesien opvoeding nie ’n eiland vir een persoon is nie, maar ’n beskermheer vir almal.  

...

Professor Heleen Janse van Vuuren

Submitted on Mon, 08/29/2022 - 09:16