Ek stel dit aan u – tweedejaar-Vanderbijlparkstudente die wenners in die NWU Juta Skynverhore

’n Span tweedejaarstudente van die Fakulteit Regte op die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) is hierdie jaar se wenners in die gewilde jaarlikse NWU Juta Skynverhore-kompetisie wat op 15 Augustus in Potchefstroom plaasgevind het.

Omphemetse Malebese, France Richia, Ayanda Sibisi en Tsitsi Sithole het met die eerste prys ter waarde van R30 000 weggestap.

Die opwindende finale rondte, wat met ’n in-persoonformaat teruggekeer het nadat dit verlede jaar as gevolg van Covid-19-beperkings virtueel aangebied is, is bygewoon deur ’n entoesiastiese skare wat lede van die regbank, Nasionale Vervolgingsgesag, advokate, prokureurs asook personeel en studente van die NWU ingesluit het. Die verrigtinge is met eersteklasvermaak afgesluit.

Die finale stryd tussen twee spanne – die tweedejaars van die Vanderbijlparkkampus, wat die staat verteenwoordig het, en ’n derdejaargroep van die Potchefstroomkampus, wat die verdediging waargeneem het.

Hulle moes ’n saak met twee aanklagte bepleit – ’n saak van gewone aanranding en een van crimen injuria. Die presiderende regters, regterpresident Ronald Hendricks van die Noordwes Hoë Hof en regter André Petersen, het ten gunste van die staat bevind op aanklag 1 – skuldig, maar die beskuldigde is op die tweede aanklag vrygespreek.

Elke deelnemer is ook ’n wenner

Regterpresident Ronald Hendricks sê hoewel een span gewen het, elkeen wat deelgeneem het ’n wenner is. “Ek weet dat julle baie geleer het – selfs al was dit net oor hoe julle julleself in ’n hofopset moet gedra. Dit is baie belangrik, aangesien daar deesdae prokureurs is wat nie weet hoe om hulleself behoorlik in ’n hof te gedra nie en nie die nodige respek aan die hof en aan kollegas toon nie. Ek hoef nie voorbeelde te noem nie, dit word selfs op die televisie vertoon.”

Regter Petersen het albei spanne geloof vir die manier waarop hulle die saak benader het. “Dit was verkwikkend vir ons om studente op tweede- en derdejaarsvlak te sien wat ’n basis vir die saak kon bou. Ons het soms praktisyns in die hof wat steeds sukkel om ’n behoorlike basis te bou.”

Dr Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, sê die geleentheid toon die dinamiek van die NWU. “Dit getuig van ons doelwitte om goed afgeronde studente te lewer. Ons Fakulteit Regte verskaf gehalte-onderrig. Hulle onderneem gefokusde navorsing en is ook by die gemeenskap betrokke. Ons doel is om regstudente toe te rus met die kennis, etiek en vaardighede wat hulle in hulle professionele lewens nodig het.”

Hy sê die skynverhore is ’n instrument en platform waar dosente hulle kundigheid met die studentegemeenskap deel. Dit behels voorts probleemgebaseerde en werksgerigte leer wat aan die studente praktiese voorbeelde en gesimuleerde oefeninge verskaf. Dit is duidelik dat hierdie verhore baie voorbereiding en harde werk verg. Die fakulteit het daarin geslaag om inisiatiewe oor kampusgrense heen te skep waar studente van al drie die leweringspunte die geleentheid kry om oor kwessies soos diversiteit en maatskaplike geregtigheid met mekaar te praat.”

Adv René Koraan, direkteur vir Professionele Ontwikkeling en Gemeenskapsbetrokkenheid en senior lektor in die Fakulteit Regte op die Potchefstroomkampus, het Juta bedank vir hulle voortgesette steun aan die NWU se skynverhoorkompetisie. “Ons moet nooit die impak onderskat wat sulke kompetisies en werkswinkels op die ontwikkeling van jong aspirantprokureurs het nie,” het sy afgesluit.

....

Die derdejaarspan van die Potchefstroomkampus het hierdie jaar tweede geëindig. Hulle is Reitumetse Legae, Nomathemba Queen Mncube, Dobie Maloba en Sibonile Nongqwena.

....

Die tweedejaarspan van die Vanderbijlparkkampus was die wenners. Hulle is France Richia, Tsitsi Sithole, Ayanda Sibisi en Omphemetse Malebese.

....

Regterpresident Ronald Hendricks van die Noordwes Hoë Hof en regter André Petersen was die voorsittende beamptes vir die finale rondte. By hulle is die eerstejaarstudent Jotobia Mangope, wat as hofordonnans opgetree het.

....

Prof Daryl Balia, adjunk-visekanselier vir Inligtingstegnologie en Potchefstroomkampusbedrywighede, regterpresident Ronald Hendricks, dr Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, regter André Petersen en mnr Bert Sorgdrager, voorsitter van die NWU Raad, tydens die finale rondte van hierdie jaar se NWU Juta Skynverhore.

....

Die finale rondte is bygewoon deur lede van die regbank, Nasionale Vervolgingsgesag, advokate, prokureurs en personeel en studente van die NWU.

Submitted on Tue, 08/16/2022 - 12:18