Die room van NWU se geoktrooieerde rekenmeesters is weer bo

Die Geoktrooieerde Rekenmeesterskap-program van die Noordwes-Universiteit (NWU) is werklik ’n krag om mee rekening te hou. ’n Mens kan dit sien nadat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) die uitslae bekend gemaak het van sy Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (ITC), waarin die NWU se klas van 2021 ’n merkwaardige 100% gekombineerde slaagsyfer in Januarie en Junie 2022 behaal het. Van die beperkte getal kandidate wat met onderskeiding geslaag het, is drie van die NWU.

“Ons is verheug oor die uitslae en ons is besonder trots op ons studente,” sê professor Heleen Janse van Vuuren, direkteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe van die NWU.

“Ons by die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe het ’n passie vir jongmense en die beroep, en ek glo dat die enigste manier om ’n werklike verskil te maak, deur uitmuntende opvoeding is. Geoktrooieerde Rekenmeesterskap as studiegebied verg deursettingsvermoë, harde werk en toewyding, en dit neem ten minste sewe jaar om te kwalifiseer. Hierdie beroep vorm jou in ’n individu wat krities kan dink, en dit leer jou om jou kennis toe te pas om die wêreld, en dus die lewens van almal wat hier woon, te verbeter. Ons is trots daarop om ’n rol te kan speel in die vorming van die toekoms en van ons studente en ons land.”

Sy voeg by dat die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe se doelwit is om goed afgeronde GR’e van uitstekende gehalte vir die bedryf te lewer, veral GR’e van aangewese groepe wat steeds baie onverteenwoordig is in die land.

“Daar is geen groter bevrediging nie as om die groei van jou studente vanaf hulle eerste jaar te volg tot die dag wat hulle kwalifiseer, en om ’n getuie te wees van hoe ’n onseker eerstejaar tot ’n goed afgeronde vakkundige vol selfvertroue ontwikkel. Ek is bevoorreg om die direkteur van ’n skool te wees waarvan die personeellede baie vaardig en gedrewe is en wat hierdie passie vir die beroep en vir jongmense deel, en ’n verskil ter wille van almal se welstand wil maak,” sê sy.

Submitted on Thu, 09/08/2022 - 10:59