Bring biokinetika na die openbare sektor

Prof Hanlie Moss, navorsingsdirekteur van FASRek (Fisiese Aktiwiteit, Sport en Rekreasie) aan die Noordwes-Universiteit (NWU), het haar meestersgraad in Biochemie voltooi, hoewel sy nog altyd ’n groot belangstelling gehad het in die wyse waarop die menslike liggaam beweeg.

Sy het gimnastiek afgerig terwyl sy haar BSc in Fisiologie en Biochemie voltooi het en het besluit om menslike bewegingskunde te bestudeer om ’n beter afrigter te word.

Toe sy in haar derde jaar aan biokinetika voorgestel word, het sy onmiddellik geweet dat dit is wat sy wil doen. Sy het gevind dat biokinetika die perfekte kombinasie van sport en medisyne verskaf.

 Nadat sy haar honneursgraad in Biokinetika voltooi het, het sy ’n praktyk in Oudtshoorn oopgemaak met die oortuiging dat dit nie saak maak waar of hoe ’n mens biokinetika bedryf nie – dit is altyd ’n wenresep.

Dit is bloot ’n kwessie van behou jou pasiënt lank genoeg sodat hulle hulle gedrag kan verander en die uitkoms daarvan kan ervaar. Prof Moss se bevrediging in haar loopbaan is juis dit – om ’n impak op die daaglikse lewens van ander te maak. 
Haar eerste projek nadat sy ’n pos by NWU Biokinetika aangebied is, was om te kyk na homosisteïen as ’n merker vir kardiovaskulêre siekte.

Sy het daarna, in 2005, aan projekte soos die Prospective Urban and Rural Epidemiological-studie (PURE-studie) gewerk, waar data in landelike gebiede ingesamel is.

Sy het besef dat dit onmoontlik is om ’n positiewe verskil in Suid-Afrikaners se gesondheid te maak wanneer die breër bevolking nie deur middel van oefening, die neem van medisyne en goeie voeding vir hulleself kan sorg nie. Anders as met sielkundiges, verpleegkundiges, dieetkundiges en so aan, is die beroep van ’n biokinetikus tot die privaat sektor beperk.

Elke keer as daar ’n poging aangewend word om biokinetici na die openbare sektor te bring, word meer bewyse oor die doeltreffendheid daarvan aangevra, ten spyte van die groot hoeveelheid bestaande navorsing wat bewys dat oefening doeltreffende behandeling vir verskeie toestande is.

Aangesien prof Moss passievol is oor gesondheid tydens swangerskap, het sy navorsing met swanger vroue gedoen. Sy het gevind dat talle Suid-Afrikaanse vroue vetsugtig is.

Wanneer hierdie vroue swanger raak, is daar ’n groter risiko dat hulle toestande soos diabetes en hipertensie sal ontwikkel. Algemene navorsing toon dat hierdie vroue dikwels geboorte gee aan groter babas, wat op hulle beurt geneig is om ook vetsugtig te wees.

Hoewel die babas van vroue wat tydens swangerskap geoefen het nie noodwendig kleiner is nie, is hulle vetpersentasie by geboorte laer. 
Prof Moss wou met haar projek die werklikheid bestudeer dat swanger vroue in Suid-Afrika nie oefen nie omdat daar wanopvattings oor gepaardgaande gevare en risiko’s bestaan.

Sy het bevind dat die gemiddelde vrou ten minste 5 kg gewig ná haar baba se geboorte behou. Die probleem by meer as een swangerskap spreek vanself. Ideaal gesproke behoort ’n intervensie plaas te vind, maar toegang tot die breër publiek is moeilik.

Prof Moss het toe met ’n Poolse kollega saamgewerk om die NEPPI-projek te ontwikkel, wat ten doel het om praktisyns soos fisioterapeute en biokinetici aanlyn toe te rus met akkurate kennis ten opsigte van oefening tydens swangerskap sodat hulle oefening doeltreffend aan swanger vroue kan voorskryf. 
In ’n ander projek, die B-Healthy-intervensie, het prof Moss haar passie vir nie-aansteeklike siektes (NCD’s) en hulle risikofaktore ondersoek.

Die intervensie het as ’n eerste stap die lewenstekens van twee groepe mense in Ikageng getoets. Een groep het toe oefeninge gekry wat hulle op ’n weeklikse basis moes doen, terwyl die ander groep bloot roetine-oefeninge gekry het wat hulle ontvang het tydens hulle maandelikse besoeke aan die kliniek om hulle voorskrifmedikasie te kry.

Prof Moss het drie maande lank die toepassing van die prosedures by die kliniek waargeneem en bevind dat pasiënte gemiddeld teen ongeveer 06:00 opdaag en teen 13:00 vertrek – ’n verbluffende werklikheid.  

Sy het met die kliniekpersoneel onderhandel en gereël dat haar Biokinetika-studente inkom en met die siftings help, wat die verpleegpersoneel tyd gee om voorskrifte te skryf en voor te berei.

Terwyl die siftings gedoen word, sou die Biokinetika-studente die pasiënte vir ’n uur lank laat oefen. Hierdie prosedure is drie maande lank volgehou, gevolg deur nog drie maande sonder aansporingsmiddels (byvoorbeeld betaling vir vervoer) om te sien of die pasiënte hierdie gesonde patroon sal voortsit. 
Daar is bevind dat vir pasiënte om die oefenpatroon vol te hou, hulle ’n fisieke verbetering in hulle liggame moes voel en ervaar.

Hulle moes ervaar dat hulle byvoorbeeld langer afstande kon stap, take in en om die huis makliker kon voltooi, beter bloeddruk of bloedsuikervlakke gehad het, ens.

Nietemin, sterk kulturele persepsies ten opsigte van oefening en verwante risikofaktore het tot ’n mate voortgeduur, en beperkte hulpbronne om oefengewoontes en ’n gesonde dieet in stand te hou, was steeds ’n werklikheid.
Ter opvolging vir hierdie projek het prof Moss ’n intervensie ontwerp wat in hierdie gemeenskappe meer volhoubaar sou wees. ’n App is saam met kollegas van Finland ontwikkel waar oefenprogramme vir hierdie individue in Tswana aangebied is en wat hulle met selfgemaakte apparaat soos besems, meelsakke om te druk, springtoue wat van stringe plastieksakke gemaak is, gewigte wat gemaak is uit Coke-bottels wat met sand gevul is, ens. kon gebruik.

Die app sal in die volgende jaar of so getoets word, maar die idee is om die oefeninge beskikbaar te hê om af te laai en/of uit te druk sodat individue hierdie programme tuis of onder toesig by die kliniek kan voltooi.

Die uiteindelike doel is om hierdie programme met begrotingsvriendelike kruidenierswarelysies en resepte vir ’n voedsame dieet te vergesel om gemeenskappe met kennis toe te rus sodat hulle beheer oor hulle eie gesondheid kan neem. 
Prof Moss het nie daar gestop nie. Sy het nog ’n navorsingsprojek aangepak toe sy genader is deur ’n ouer wie se kind in ’n versorgingsoord vir intellektueel gestremde persone bly.

Die ouer was besorg daaroor dat die inwoners by die oord hulle dae deurbring deur bloot te sit, dus het prof Moss ’n inisiatief beplan om hulle te help om te oefen.

Dit het met ’n stapprogram begin, en met die hulp van die Nasionale Lotery is die versorgingsoord uiteindelik met ’n hele gimnasium toegerus, en ’n biokinetikus is aangestel.

Prof Moss het toe haar navorsing uitgebrei na nog ’n huidige intervensie vir jong volwassenes wat aan major depressie ly.

Die intervensie kyk na objektiewe metings om die toestand te diagnoseer en die vordering te meet wat deur fisiese oefening teweeg gebring word.
Prof Moss streef daarna om biokinetika as beroep na die openbare sektor te bring deur genoeg bewyse in te samel dat oefening as doeltreffende behandeling vir talle leefstylverwante toestande dien.

Haar droom is om toe te sien dat biokinetika deel van rehabilitasiesentrums vir depressie, geriewe vir verstandelik gestremdes, dialise-eenhede en al die klinieke in die openbare sektor word. 
...

Prof Hanlie Moss

 

Submitted on Tue, 09/06/2022 - 11:54