Bloemis Yolanda blom toe eintlik in die onderwys

ʼn Mens kan nie help om te wonder of Yolanda Fourie in haar matriekjaar aan die Hoërskool Transvalia geweet het wat vir haar in die toekoms wag nie. Het sy ooit, terwyl sy as bloemis tussen die blomme werksaam was, geweet waar sy eintlik eendag sou blom? Sou sy kon dink dat sy eendag op die verhoog by ʼn gradeplegtigheid van die Noordwes-Universiteit (NWU) as uitblinker in haar klas sal staan?

Yolanda en haar eggenoot het in 2004 na Engeland verhuis waar sy haar nering as bloemis gevind het. Of so het sy gedink, selfs toe sy later na Suid-Afrika teruggekeer het en haar oog vir blomme haar aan funksies soos Mej SA junior sien werk het.

Haar fokus het egter verskuif toe sy in 2013 by die NWU se kampus in Vanderbijlpark vir ‘n BEd-graad in senior en verdere onderrig en opleiding ingeskryf het.

Yolanda is vir die volgende vier jaar elke jaar as die beste student van haar groep aangewys, en in 2015 het sy ook met die toekenning vir die beste student op kampus weggestap. In haar vierde jaar het sy ʼn ongelooflike 52 modules uit die 56 voorgeskrewe modules met onderskeiding geslaag. Sy het deurentyd ʼn gemiddelde persentasie van 89,06% gehandhaaf. Haar roeping het sy beslis gevind!

Hoewel sy saam met haar klasmaats aan die einde van haar voorgraadse reis staan, het Yolanda nog lank nie haar eindbestemming bereik nie. Sy is tans besig met haar honneurs en beplan om in 2018 vir ʼn meestersgraad in te skryf.


Yolanda Venessa Fourie

 

 

 

 

 

 

Submitted on Mon, 05/22/2017 - 15:02