“Attached to the Soil” ― NWU beleef ’n Fulbright-vakkundige se aangrypende uitstalling

’n Uitstalling wat die hoop en drome saamvat van Suid-Afrikaners wat sedert 1994 in ’n demokratiese land woon, is tans op toer na ses van Suid-Afrika se universiteitskampusse. Lede van die bestuur, personeel en studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n rondstapgeleentheid op die NWU se Potchefstroomkampus bygewoon waar hulle die Fulbright-vakkundige prof Peter Glendinning se “Attached to the Soil”-uitstalling kon ervaar.

Prof Glendinning, ’n professor in Kuns, Kunsgeskiedenis en Ontwerp aan die Michigan State University, het die rondstapgeleentheid by die NWU Kunsgalery vir dekane, adjunkdekane en skooldirekteure van die verskillende NWU-fakulteite aangebied. 

Die rondstapgeleentheid, wat op 12 Augustus plaasgevind het, is deur die NWU se navorsingsnisarea Visuele Narratiewe en Kreatiewe Uitsette (ViNCO) gereël. Die uitstalling bestaan uit 50 fotografiese portrette wat geskep is by die ses universiteite waar dit uitgestal gaan word.

As deel van die uitstalling het prof Glendinning nog rondstapgeleenthede vir studente en lede van die publiek gereël en fotografiewerkswinkels vir studente en opkomende kunstenaars aangebied.
Meer oor “Attached to the Soil”
“Attached to the Soil” is in 2019 tydens die 25ste herdenkingsjaar van president Nelson Mandela se inhuldiging geskep*. Dit is ’n samewerkingspoging van 48 jongmense en elkeen se werk is gebaseer op nuwe grondverwante metafore wat deur die jeug van die “vrygebore-geslag” geskep is. Daardie metafore beeld hulle aspirasies uit, maar nou in die konteks van ’n 25 jaar oue nasie, sê prof Glendinning.

Dr Annemi Conradie-Chetty, direkteur van ViNCO, sê prof Glendinning het die NWU in 2019 besoek en met studente en lede van ViNCO saamgewerk om hulle eie fotografiese projekte te skep wat ’n portret en die model se opgeneemde vertelling bevat. 

Prof Glendinning sê hy was beïndruk met almal by die NWU se entoesiasme vir die uitstalling. “Dit is ’n groot vreugde om hier by die NWU te wees. Ek is ook hier om vir jong mense te vra om met die projek voort te gaan en hulle eie kombinasies van mondelinge geskiedenisonderhoude te skep met mense wat stories uit hulle lewens het wat van hulle aspirasies vertel.”

Die uitstalling het op 11 Augustus geopen en sal op 16 September tot ’n einde loop. Vir meer inligting kontak die kurator van die NWU Kunsgalery, me Amohelang Mojahane, by (018) 299 4341, of stuur ’n e-pos aan amohelang.mohajane@nwu.ac.za
*Die “attached to the soil”-metafoor is deur voormalige president Nelson Mandela tydens sy eerste toespraak aan Suid-Afrikaners met sy inhuldiging in 1994 gebruik. 
Hy het gepraat van die belangrikheid van elke individuele landsburger in hulle eenheid met mekaar. Hy het die metafoor van die grond gebruik deur te sê: Aan my landgenote, ek huiwer nie om te sê dat elkeen van ons net so onlosmaaklik verbind is aan die grond van hierdie pragtige land as die beroemde jakarandabome van Pretoria en die doringbome van die Bosveld nie. Elke keer as een van ons aan hierdie grond raak, kry ons die gevoel van ’n persoonlike herlewing.

...
 Prof Mirna Nel, adjunkdekaan vir Navorsing en Innovasie, saam met prof Peter Glendinning en dr Annemi Conradie-Chetty, direkteur van ViNCO, tydens die rondstapgeleentheid op 12 Augustus.

...

Prof Peter Glendinning deel van die stories agter die foto’s in sy uitstalling.

....
Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer, en prof Mirna Nel, adjunkdekaan vir Navorsing en Innovasie, het die rondstapgeleentheid bygewoon.


 

Submitted on Mon, 08/15/2022 - 14:03