Applous vir die finaliste en wenners van die Modiragatsi-innoveringskompetisie vir die jeug

Die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) het op Vrouedag vanjaar die voorreg gehad om begaafde en skrander jong leerders en studente te vereer wat die potensiaal toon om ’n beter toekoms vir ons almal te skep!  Die finaliste en wenners van die Modiragatsi-innoveringskompetisie vir die jeug is tydens ’n ontbytgeleentheid by The Capital On The Park Hotel in Sandton vereer.

Die Modiragatsi-innoveringskompetisie vir die jeug, wat in samewerking met merSETA en SIEMENS deur die NWU Besigheidskool aangebied word, is ’n gemeenskapsbetrokkenheid-projek wat ten doel het om die Suid-Afrikaanse jeug (veral die vroulike jeug) te bemagtig om ’n tasbare verskil in hulle gemeenskappe te maak.

Aansoekers – individue of in spanne van twee – moet ’n probleem in hulle eie gemeenskap identifiseer wat hulle meen deur middel van ’n mobiele app of ’n elektroniese produk opgelos kan word.  Hulle skryf in met net die idee as ’n voorgestelde oplossing, en daarna is die 12 weke lange opleiding en mentorskapprogram waar die dinge begin gebeur! Leerders en studente word gehelp om uit die oogpunt van die gebruiker weer na hierdie werklike probleme te kyk en om hulle vaardighede in produkontwikkeling, probleemoplossing deur ontwerp en komputasionele denke, mobiele-app-ontwikkeling (met behulp van die Mendix-universiteitsprogram) te ontwikkel, en om dan ’n besigheid rondom daardie produk te bou. Hulle word ook in die beskerming van intellektuele eiendom opgelei (met behulp van materiaal wat deur KISH-IP geskep is), en om hulle nuwe onderneming te konseptualiseer en aan potensiële beleggers voor te lê.

Die voordele van die Modiragatsi-kompetisie is verreikend. Eerstens word jong Suid-Afrikaners met nuwe vaardighede bemagtig en kry hulle die geleentheid om lewens te verander – ook hulle eie. Ons weet van leerders in die program wie se punte in Wiskunde op skool van 1’s tot 7’s gestyg het as toevallige gevolg van die vaardighede wat hulle in hierdie kompetisie geleer het en die feit dat hulle vir die eerste keer besef het dat hulle rede het om in hulleself te glo. Tweedens identifiseer en bevestig leerders en studente self probleme in hulle gemeenskappe, wat die identifikasie en potensiële oplossing van werklike sistemiese probleme in die wêreld tot voordeel van almal moontlik maak. Laastens word leerders en studente se sielkundige en ontwikkelingsmylpale bepaal en ontwikkel. Die Care2Kids-span van die NWU se Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) het hierdie jaar ’n program aangebied wat spesifiek op leerders en studente se geestes- en ontwikkelingswelstand fokus. Dit het ’n weeklikse lewendige stroom vir persoonlike ontwikkeling ingesluit vir so lank as wat die kompetisie geduur het.

Wat die deelname van die innoveerders self betref, kan ’n mens net sê dat die beoordelaars met ongelooflike idees en wonderlike talent te doen gekry het. Daar is ’n totaal van 81 spanne (150 deelnemers) opgelei. Hierdie spanne het van 42 hoërskole regoor die land gekom en het spanne met 68 hoërskoolmeisies, 36 hoërskoolseuns en 33 onderwysers, asook 13 voorgraadse studente ingesluit. Om aan die kriteria van die kompetisie te voldoen, moes hulle ’n inspirerende idee voorlê met die moontlikheid om ’n impak te maak wanneer dit geïmplementeer word, ’n passie vir wetenskap en ingenieurswese demonstreer, en die idee duidelik, bondig en toepaslik aan die beoordelaars uit verskillende agtergronde oordra.

Die kompetisie het uit ses kategorieë bestaan. Die eerste kategorie, Edutech, fokus op die gebruik van tegnologie om onderwys te verbeter. Die kategorie het ses finaliste gehad waaruit gesamentlike wenners gekies is. Die idee van die eerste gesamentlike wenner, Mphoentle Matloa (van die Central Secondary School, Brits), was om fisiese wetenskap te gebruik om vir elke skool ’n wetenskaplaboratorium in ’n boks te skep. Die idee het ontwikkel in ’n digitale laboratorium in ’n boks in die vorm van ’n app wat leerders kan gebruik om wetenskapprojekte te voltooi. Die uitkoms van die projek sal deur die leerder se insette bepaal word, die inligting sal met behulp van fisika verpak word, en die app sal dinge soos ’n vasvra gebruik om die gebruikers se kennis oor die inhoud te toets. Hoe klink dit vir innovasie?

Die tweede van die gesamentlike wenners was die span van Arnold Dippenaar en Isabelle van Wyk (van Hoërskool Waterkloof), wat ’n aanlyn platform wil skep waar leerders aan Wiskunde-olimpiades kan deelneem, met die nodige voorbereiding en voorbeelde om dit suksesvol te kan doen.  Die idee is dat leerders van verskillende onderrigvlakke kan deelneem en na hoër ligas kan vorder. Dit kan die broodnodige stap wees ten opsigte van die doeltreffende manier om leerders in Wiskunde te “onderrig” en te verseker dat hulle sukses behaal.

Die tweede kategorie, Voedsel, Energie en Water, het vier finaliste gehad. Die wenner, Omphile Choane (van Hoërskool Welkom), het gedink aan ’n manier om veilige drinkwater by behoeftige mense uit te bring. Sy idee was om ’n bakkie toe te rus met watersuiweringstoerusting wat deur sonenergie aangedryf word. Watter blink idee! Ayeesha Kahn (van Star College Durban) het ook ’n eervolle vermelding gekry in hierdie kategorie vir haar idee om die gaping te oorbrug tussen die vermorsing van goeie voedsel in restaurante en die mense wat honger is. Dit word gedoen deur ’n app wat inligting op aanvraag deel, wat mense dan in staat stel om voedsel af te haal en te versprei aan diegene wat dit nodig het. Dit is ’n wonderlike manier om die voedselkrisis in gemeenskappe op te los.

In die derde kategorie, die Voorkoming van Geslagsgebaseerde Geweld, was die wenner uit ses finaliste Ritsepile Sambo (van Star College Durban), wat ’n toestel voorgestel het wat mense by hulle kan dra en kan aktiveer wanneer hulle in gevaar is. Hierdie toestel sal bewyse versamel wat die polisie kan gebruik om oortreders met sukses op te spoor en te vervolg. Die toestel sal ’n opnamefunksie hê, asook ’n knoppie om hulp te ontbied.  

Die wenner van die vierde kategorie, Healthtech, was die span van Kevin Naylor en Jo Duvenhage (van Worcester Gimnasium). Hulle wil ’n digitale platform ontwikkel waar tieners veilig en anoniem geestesgesondheidsverwante vrae en probleme kan deel sonder dat hulle blootgestel voel. Dit verskaf nie net ’n veilige plek waar tieners hulp kan kry nie, maar help ook beraders om sistemiese probleme onder die jeug te identifiseer en iets daaraan te doen. Is hierdie platform nie presies wat ons jong mense nodig het om in vandag se tye hulle welstand te bevorder nie? 

In die Veiligheid en Sekuriteit-kategorie het die wenner, Tyla Shepstone (van Somerset College), daaraan gedink om die internet te gebruik om gevalle van vermiste persone beter te bestuur en dit te help voorkom. Dit help nie net dat kinders opgespoor word nie, maar dit identifiseer ook “groen sones” – roetes waar kinders gewoonlik beweeg – en skep dan ’n waarskuwing wanneer hulle uit daardie sones beweeg. Aangesien ’n mens nie versigtig genoeg kan wees wat die veiligheid van jou geliefdes en jouself betref nie, kan ’n mens met trots sê dis ’n briljante idee.

Die finale kategorie, Townshipekonomie, het drie finaliste gehad wie se projekte mekaar so goed aangevul het dat dit ’n ongelooflike besigheid kan word. Die kategoriewenner, die span van Martin Maupa en Lenke Ernst (van die Noordwes-Universiteit) het ’n innoverende app voorgestel wat as ekonomiese instrument gebruik kan word om groter marktoegang vir klein en mediumgrootte ondernemings in townships te kry om hulle sake-idees te formaliseer. Ons het ’n beduidende behoefte onder hierdie besighede en dit is ’n wonderlike manier om aan daardie behoefte te voldoen!

Om ’n uiteindelike wenner uit sulke merkwaardige idees te kies, was ’n bykans onbegonne taak. Die beoordelaars was verstom om te sien waartoe hierdie leerders in staat is deur net hulle eie denke te gebruik.  Met geen tegniese ervaring hoegenaamd nie, het die deelnemers met net ’n idee vorendag gekom, en met 12 weke se stimulering in ’n gestruktureerde program is hierdie idees omgeskakel in relevante, innoverende, implementeerbare inisiatiewe wat probleme in die werklike wêreld kan oplos. Ná baie oorweging het die span van Kevin Naylor en Jo Duvenhage (van Worcester Gimnasium) as die uiteindelike pryswenners weggestap met hulle uitmuntende idee vir ’n kommunikasieplatform vir tieners met geestesgesondheidsprobleme. Die groot prys sluit ’n beurs vir hierdie leerders in om aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit te studeer. Die wenners sal ook Duitsland in Desember 2022 besoek op ’n tegnologietoer wat deur SIEMENS Digital Industries aangebied word. “Dit is ’n geweldige voorreg om SIEMENS as ’n vennoot te hê, aangesien hulle deure in die bedryf – waaroor honderde ingenieurs maar net kan droom – vir ons wenners oopmaak. Dit is werklik ’n geleentheid wat net een keer in leeftyd oor ’n mens se pad kom,” sê prof Leenta Grobler.

Die sukses van hierdie kompetisie en van elke deelnemer is opwindend en laat ’n mens tog ook nederig voel, en ’n hoeksteen daarvan wat nie verswyg moet word nie, is die ongelooflike mentorskap van die onderwysers, wie se toewyding alle verwagtings oortref het. ’n Enkele voorbeeld is die KZN-vloede in Junie, wat ’n geweldige invloed op leerders van Durban Star College in die kompetisie kon gehad het. Die impak is afgeweer deur onderwysers wat male sonder tal gebel het om te verseker dat die leerders weet wat van hulle verwag word, en hulle het niks teruggehou nie. Hulle praktiese betrokkenheid by elke stap van die kompetisie het ’n geweldige verskil gemaak, en teen alle verwagting in en danksy hierdie onderwysers, het Star College Durban twee trotse kategoriewenners in die kategorieë van GBV en Voedsel, Energie en Water gehad. Dieselfde kan gesê word vir onderwysers soos Grace Djan van die Potchefstroomse Hoërskool vir Meisies, wat ’n mentor was vir 14 spanne en self die onderhoude met elke finalisspan gevoer het. Geen taak was te veel moeite vir hierdie onderwyser nie. Sy het alles in die stryd gewerp om toe te sien dat haar leerders in die kompetisie uitblink.

....

Algehele wenners Jo Duvenhage en Kevin Naylor (van Worcester Gimnasium)

....

Kategoriewenners, 2022

Submitted on Mon, 08/22/2022 - 10:30