Hy is dalk klein van statuur, maar almal weet hy is gróót van gees. Dr Ali Bacher, Suid-Afrika se befaamdste krieketadministrateur, wat op 80-jarige ouderdom steeds wêreldwye aansien geniet, het vandeesweek die Noordwes-Universiteit (NWU) besoek om genoeg lewenslesse en staaltjies te deel om boeke vol te maak.
Hierdie gaslesing is deur die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aangebied en deur die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie gereël, en mensig, dit was interessant.
Waar om te begin?
Dié voormalige nasionale krieketkaptein het beklemtoon dat passie en toewyding voor finansiële vergoeding moet kom en gemaan dat ’n mens nooit moet jok nie, want jy sal altyd uitgevang word. Hy het sy berou uitgespreek dat hy nie altyd mense genoeg in die werksomgewing opgehef het nie, en gesê dat mense aangemoedig moet word, en dat leiers ʼn voorbeeld moet stel deur hulle nie hoër as hul werknemers te ag nie. Hy het gespot hoe sy kleinkinders sê hy spruit uit die agtiende eeu weens sy tegnologiese onvermoë. Nelson Mandela is genoem. Meer as genoem. Hulle het ʼn noue band gehad. Etes by die Uniegebou – einste kleinkinders wat hom so terg, het op Madiba se skoot gesit. Hoe hy vir Cyril Ramaphosa vir advies gevra het met die reël van die 2003 Krieketwêreldbeker op tuisbodem.
Maar julle wil nie dit hoor nie, nè? Julle wil oor krieket hoor.
Nou, naas die Australiese meesterkolwer Don Bradman, sal Jacques Kallis die eerste naam op sy ideale krieketspanlys wees. Steve Waugh het self vir hom gesê Suid-Afrikaners het nie besef hoe goed Kallis was nie. Die veelsydige Wes-Indiese ster sir Garfield Sobers was, volgens Bacher, omtrent net so goed. Hy het vertel hoe hy in 1991 op die eerste Suid-Afrikaanse vliegtuig was wat Indië sedert 1948 besoek het. Dit was Suid-Afrika se eerste kriekettoer sedert hertoelating en dit is ook waar hy ʼn 18-jarige Sachin Tendulkar ontmoet het. Hulle is steeds vriende. Hy vertel met bewondering hoe Tendulkar die druk van 1,3 biljoen Indiese ondersteuners verwerk het. As hy nou vir Tendulkar ʼn boodskap stuur, is dit skaars 30 minute dan hy kry ʼn antwoord terug.
Hy is spyt oor Bradman, vertel hy. As speler het hy vir hom ʼn brief geskryf en Die Don het vir hom teruggeskryf. Agt bladsye lank! Wat doen Bacher? Hy gooi die brief weg. Daaroor, sê hy, is hy dêm spyt. Gelukkig het hy Bradman tydens die 1992 Wêreldbeker in Australië ontmoet. Vir ʼn uur en ʼn half het Bradman met hom oor Suid-Afrika gepraat. Blykbaar het die Aussie meer oor die Republiek geweet as die boorling van Roodepoort.
Bradman het ʼn toetsgemiddeld van 99,94 gehad. Dit is ongehoord. Dit is absurd. Graeme Pollock is tweede met 60,97. Bacher sê hy Bradman was ʼn natuurfrats. Ons sal nooit weer sy gelyke sien nie. Tog meen hy statistieke maak nie rêrig saak nie. Nee, die ouens wat die spel ken, die ouens wat rêrig die spel ken, weet of ʼn speler goed is of nie. ’n Mens kan dit sien, maak nie saak wat ʼn stuk papier sê nie.
Hy sal weet. Min sal beter as hy weet.