Robofest 2017: NWU-kampus haal robotika uit die wetenskapklas uit

Die opwinding wat met die Suid-Afrikaanse weergawe van Robofest 2017 gepaard gegaan het, voorspel 'n skouspelagtige internasionale kampioenskap in Junie. Op Saterdag, 4 Maart 2017, het die Vanderbijlparkkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) in samewerking met Trophy Robotics die 2017 Kampioenskappe van die Suid-Afrikaanse Nasionale Robofest aangebied.

Hierdie jaar se kampioenskap dien as kwalifiseerder vir die internasionale kompetisie wat in Junie in Florida, VSA, gaan plaasvind.

Meer as 50 leerders van skole regoor sentraal Suid-Afrika het aan Robofest SA deelgeneem, en volgens me Malie Zeeman, 'n dosent by die Skool vir Inligtingstegnologie op die kampus en 'n lid van die reëlingskomitee, is dit wonderlik om die jonges so geïnteresseerd in robotika te sien. “Die hoofdoel van 'n inisiatief soos Robofest is om leerders aan te moedig om wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde – of WTIW ("STEM") – soos daar meer algemeen na verwys word, aan te gryp,” verduidelik Zeeman en voeg by dat Robofest SA 'n ideale platform verskaf waarvan die beginsels van fisiese wetenskap, rekenaarprogrammeringsvaardighede, tegnologie, toegepaste wiskunde en kommunikasietegnologieë onderrig kan word.

Deur die loop van die geleentheid ontwerp, bou en programmeer leerders – individueel of as 'n span – hul eie robotte. Die kampioenskap het vir drie ouderdomsgroepe voorsiening gemaak: Graad 4 – 8, Graad 9 – 12, en die gevorderde VCC-afdeling (Vision Centric Challenge) vir hoërskoolleerders en universiteitstudente. Individue, skole en spanne het tydens Robofest 2017 in die volgende kategorieë deelgeneem: Gameplay, Exhibitions en die Vision Centric Challenge.

Die wenners was:

•    Gameplay

  • Junior: C. Easter
  • Senior: C. Cockroft

•    Exhibitions

  • Junior: Brainiacs
  • Senior: JomoSoco, War Machine en RoboRats

•    Skoolontwikkelingspanwenners

  • EV Awesome

Volgende stap: die internasionale arena

Pieter Pretorius, internasionale verteenwoordiger van Robofest, het gedurende die geleentheid aangekondig dat die wenners van die verskillende kategorieë hul land tydens die internasionale kampioenskappe in Junie in die VSA sal verteenwoordig. In nog 'n opwindende ontwikkeling het die internasionale reëlingskomitee ook twee uitnodigings aan Suid-Afrika gerig om aan die sogenaamde Wêreldkampioenskappe in BottleSumo deel te neem. Hierdie uitnodigings is vir middel- en hoërskoolleerders. Dit sal die eerste keer wees dat 'n Suid-Afrikaanse span in hierdie kategorie sal deelneem. Ter voorbereiding hiervoor sal Pretorius twee werkswinkels op 18 en 25 Maart aanbied, waartydens hy leerders met die nodige vaardighede vir hierdie kategorie sal toerus en uiteindelik die twee spanne sal kies wat Suid-Afrika gaan verteenwoordig.

Meer oor die Robofest Kampioenskap

Robofest het die wêreld aan die gons sedert dit in 2000 ontstaan het. Meer as 16 000 leerders het in die afgelope 15 jaar aan Robofest deelgeneem, insluitende spanne uit 13 Amerikaanse state, Engeland, Kanada, China, Frankryk, Indië, Brasilië, Suid-Korea, Mexiko, Singapoer en Suid-Afrika.

* Vanjaar is die derde keer dat die Noordwes-Universiteit hierdie spoggeleentheid aanbied.


Twee van die deelnemers in die “Exhibition”-kategorie, beide van die Brainiacs-wenspan. (Albei is 12 jaar oud).

 

Submitted on Tue, 03/14/2017 - 12:27