Onoorwonne seisoen vir NWU Vanderbijlpark rugby

‘n Onoorwonne seisoen is iets waaroor enige afrigter en speler droom, maar slegs ‘n uitgelese groep sal dié prestasie op hulle getuigskrif kan aanbring.

Die o.21-rugbyspan van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het dié uitsonderlike maalpyl vroeër vandeesmaand vermag toe hy sy eweknie Brakpan met 42-37 in die eindstryd van die Peregrine-liga geklop het.

Volgens Dewald Pieters, die hoofafrigter van die NWU Vaal Rugbyklub en NWU Vaal Rugby Akademie, het die span ondanks ‘n uitmergelende seisoen daarin geslaag om met ‘n vleklose vertoningslys die Valke-titel in te palm.

Die span in pers het 12 opeenvolgende seges behaal en in die proses 651 punte aangeteken en slegs 115 afgestaan. Dit opsigself spreek boekdele van die gehalte van die spel wat span opgelewer het.

“Dit is ‘n baie spesiale groep spelers. Dit is meer soos ‘n hegte familie. Die groep se werksetiek en vertroue in hulself en mekaar se vermoëns is regtig iets spesiaal,” sê Dewald.     

 

‘n Uitgelate 0.21-rugbyspan na hul oorwinning in die Peregrine-liga. Foto: Ettienne van Rensburg.

Submitted on Thu, 09/12/2019 - 15:15