NWU-kundiges besoek Sentraal-Europa om internasionale samewerking ’n hupstoot te gee

Internasionalisering is ’n top strategiese prioriteit vir die Noordwes-Universiteit (NWU). Hierdie praktyk verbeter nie net die gehalte van onderwys nie, maar bevorder ook kennistransformasie en ‑verkryging, die mobilisering van talent ter ondersteuning van wêreldwye navorsing, en die bevordering van die kurrikulum met internasionale inhoud.

Teen hierdie agtergrond het drie navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe onlangs aan die sewende Internasionale Wetenskapkonferensie oor Bestuur in Slowakye deelgeneem.

Die tema van hierdie jaar se konferensie was “Bestuur en die wêreld in beweging: Uitdagings, geleenthede en bedreigings”.  

Die trio – prof Danie Meyer, dr Natanya Meyer en Jacques de Jongh – het tydens die konferensie vyf akademiese navorsingsreferate gelewer. Die onderwerpe van hierdie referate het entrepreneurskap, ontwikkelingsekonomie, inklusiewe groei en arbeidspraktyke ingesluit. Spesifieke navorsing oor die vier Visegrád-lande – Slowakye, Pole, Hongarye en die Tsjeggiese Republiek – is ook aangebied.

Benewens dat hulle die konferensie bygewoon het, is die NWU-afgevaardigdes ook genooi om ’n reeks meestersklasse en spesiale lesings by twee universiteite in Hongarye aan te bied. Die eerste was by die Szent István Universiteit in Gödöllő, en die tweede by die Boedapest Metropolitaanse Universiteit.

Volgens prof Meyer was die fokus van die lesings streeks- ekonomiese ontwikkeling, en het onderwerpe soos inklusiewe groei-indekse, ’n alternatiewe multidimensionele ekonomiese ontwikkelingsindeks, entrepreneurskap, indiensneming in Suid-Afrika, en die formulering en toepassing van evalueringsinstrumente vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling ingesluit. Aandag is ook gegee aan aspekte soos aanbiedingsvaardighede en akademiese skryfwerk.

Die drie het voorts moontlike geleenthede vir samewerking geïdentifiseer, insluitende studente-uitruilprogramme, eksterne eksaminators, buitengewone professorskappe en navorsingsamewerking. 

Dr Natanya Meyer, Prof Danie Meyer en Jacques de Jongh.

 

 

Submitted on Tue, 11/20/2018 - 08:25