NWU-konvokasie: ontbyt is op die tafel!

Die terme “alumna” of “alumnus” verteenwoordig baie meer as blote titels. Dit is nie slegs ’n deel van jou akademiese verlede nie, maar ook van jou professionele toekoms. Kortom: dit verteenwoordig ’n lewenslange verhouding met jou alma mater – en in jou geval, die Noordwes-Universiteit (NWU).

Wat ook al by die NWU gebeur, kan ’n invloed op jou kwalifikasie hê, en daarom is alumni, op grond van lidmaatskap van die konvokasie, bemagtig om ’n sê in universiteitsake te hê. Deur aan die gesprek deel te neem, speel alumni dus ’n belangrike rol om te verseker dat die gehalte en reputasie van die universiteit gehandhaaf en versterk word.

In die lig van bogenoemde belangrikheid van die konvokasie, gaan die Alumnikantoor op die NWU se kampus in Vanderbijlpark op 29 Oktober 2018 sy tweede Konvokasie-gespreksontbyt hou. Tydens hierdie ontbytsessie – wat by die Klein Lapa langs die rivier sal plaasvind – sal lidmaatskap van en die rol van die konvokasie bespreek word.

Volgens Zanele Ngobese, die kampus se alumni-koördineerder, verteenwoordig die konvokasie ’n statutêre liggaam van die universiteit en word dus in die universiteit se Statuut as deel van die formele bestuursraamwerk erken. “Lidmaatskap van die konvokasie kan slegs deur ’n formele aansoek en betaling van die voorgeskrewe fooi van R50 verkry word,” verduidelik Zanele, en voeg by dat dit ’n eenmalige aansoek vir lewenslange lidmaatskap is. 

Die doel van die konvokasie is voorts om die welstand van die NWU te bevorder deur sy beeld, tradisies en belange te beskerm en as skakel tussen lede van die konvokasie en die Universiteit te dien. Die konvokasie word op die Universiteitsraad verteenwoordig en werk ook nóú saam met ander strukture soos die Alumni-vereniging, wat interaksie tussen die Universiteit en sy alumni bevorder.

Vir meer inligting oor die konvokasie, besoek die NWU se webwerf. Jy kan Zanele by 016 910 3250 kontak of vir haar ’n e-pos by zanele.ngobese@nwu.ac.za stuur.

Die uitvoerende komitee van die NWU-konvokasie is, voor: mnr Werner Human, mnr Bert Sorgdrager en mnr Nelson Mongale. Agter: me Karien Brits, mnr Frik van Deventer, adv Marlize Kruger en mnr Cecil Ramonotsi. (Mnr Paul Maritz was nie teenwoordig toe die foto geneem is nie).

Submitted on Thu, 10/25/2018 - 09:06