NWU-kolfkoning droom van beroepskrieket

Dit kos mannemoed en durf om ʼn kolfbeurt te open en ʼn vasberade aanvangsnelbouler stip in die oë te kyk. Die 22-jarige Ruan Havenga, aanvallende aanvangskolwer van Noordwes-Universiteit (NWU) se krieketspan in Vanderbijlpark, laat hom egter nie van stryk bring nie en droom daarvan om homself as ʼn beroepskrieketspeler te vestig.

Dit kom van kleins af

Hy het reeds op ʼn jong ouderdom die oog van Albert en Malan Morkel gevang wat die destydse NWU Vaal Krieketakademie gestig en bestuur het.

“Ek het hom op laerskool raakgesien en geweet sy talent sal hom nog ver bring. Ons het vir hom ʼn beurs by Hoërskool Garsfontein gereël en alles het daarna volgens plan verloop. Hy het die Titans-groep gehaal en oorsee gaan speel,” sê Albert Morkel, pa van die voormalige Protea-spelers Albie en Morné.

Sy welslae op die krieketveld het egter nie net in sy skoot geval nie. “Ek het baie hard gewerk om te kom waar ek is. Ek het selfs krieket in my koshuiskamer geoefen!” vertel Ruan.

Sy krieketvernuf is nie net tot wilgerlatswaai beperk nie. Hy is ook ʼn goeie bybreekbouler wat met persoonlike beste syfers van 6/21 spog. Sy hoogste telling van 221 lopies het hy in die Pretoria Premierliga gemoker.

Loopbaanhoogtepunte

Die hoogtepunt van sy krieketloopbaan was toe hy in 2017 die SA Plattelandspan gehaal het.

Ruan is tans ook die kaptein van NWU Vanderbijlpark se USSA-krieketspan en geniet dit om sy kennis en vaardighede in die spel terug te ploeg. By die Northern Academy het hy saam met groot name soos Rassie van der Dussen, Junior Dala en Henry Davids geoefen.

Sy benadering tot die spel is eenvoudig. “Mens moet besef dis ʼn spansport. Sodra jy op jou eie probeer speel, sal dit sleg gaan. Krieket gaan oor baie meer as net ʼn fisiese spel.”

Hoewel hy groot drome koester, weet hy dat daar nog baie werk vir hom voorlê. “Ek wil graag my krieket na die volgende vlak toe neem en eers by die Gauteng Akademie-span en later by die Strikers-span betrokke raak. My grootste droom is om my televisiedebuut te maak,” gee hy te kenne.

Hy is ook lief vir afrigting en bied tussen sy studies deur deeltyds kolf- en krieketlesse aan. “Ek wil graag my vlak 2-afrigtingskursus voltooi en later ʼn akademie of iets begin,” vertel hy.   

*  Ruan is tans ʼn derdejaarstudent in Finansiële Rekeningkunde.

 

Ruan Havenga, aanvangskolwer van die NWU Vaal se krieketspan, is op sy gelukkigste wanneer die leerbal die middel van sy kolf tref. Foto: Ettienne van Rensburg 

 

 

 

Submitted on Wed, 05/27/2020 - 13:06